Vers n dag - 5 April 2011
Wysheid ook vir my?
Johann Symington
Skriflesing
1 Kor 3:18
Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld 'n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik 'n wyse mens kan word, 19 want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God.
Jy hoef nie slim te wees om wys te wees nie. In die Woord lees ons: as een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld ʼn  wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik ‘n wyse mens kan word want die wysheid bring insig. En as ʼn mens insig het, kan jy op ʼn intelligente en verstandige wyse jou lewe bestuur. Wie kan dan nog in die komplekse wêreld waarin ons leef besluite neem sonder insig. Om te besluit oor lewe en dood, stamselkloning, aardverwarming, regspleging in ʼn samelewing, aardbewaring, hoe om gebalanseerde en gedisiplineerde kinders groot te maak, hoe om ʼn huwelik die moeite werd te maak te maak en ʼn duisend ander sake wat van belang is, verg insig. Dis ʼn daaglikse leerproses waar jy jou oog hou op Jesus terwyl jy nie onkundig is oor die wêreld waarin jy leef nie.
Ons gedagtes is egter so gerig op die materiële wêreld dat ons soos Nikodemis dom is wanneer dit kom by die dinge wat ons nie kan voel en sien nie. In Job 28 leer ons egter dat die wysheid kosbaarder en skaarser is as goud, pêrels en edelmetale. Dit herinner ʼn mens aan die gelykenis in Matteus van die handelaar wat alles wat hy gehad het verkoop om die kosbare pêrel te kan koop wat vergelyk word met die koninkryk van die hemel. Die slotsom waartoe Job kom is: “Om die Here te dien is wysheid, om die kwaad te vermy is insig.†(Job 28:28a)
Gebed: Here, ons is so verblind deur die glansmense van ons tyd, dat ons ware wysheid en diepte heeltemal miskyk. Verlig ons harte dat ons wysheid in die eenvoud van die lewe sal sien.