Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers-n-dag - 28 Januarie

HUIDIGE REEKS: Die huidige reeks is getiteld: “Hoe om te...” Vandag se tema: “Hoe om nuwe vriende te maak?”
NEEM DEEL: Het jy spesifieke temas waaroor jy graag meer wil lees, stuur gerus ’n epos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

DAG 14: HOE OM NUWE VRIENDE TE MAAK? (1 Johannes 4:11-12)
Deur: Benescke Botha
Soms as ek deur van die eposse van lesers lees of na gesprekke rondom my luister, begin ek wonder of daar nie dalk ’n nuwe epidemie stil-stil tussen ons ingesluip het nie. ’n Epidemie wat jy nie op die oog af kan sien nie, maar wat stadig ’n mens se siel wegvreet terwyl dit jou selfvertroue totaal vernietig. Ek noem hierdie epidemie, die epidemie van alleenheid.
Ek staan onlangs en luister na ’n gesprek waar ’n vrou in trane vertel hoedat sy soms so alleen raak dat sy met haar kombuismure begin gesels – net om ’n gevoel te kry dat iemand haar stem hoor. Haar storie het my geruk omdat ek besef het dat daar ’n klomp mense is wat heel moontlik dieselfde as sy voel. Is jy dalk vandag een van hulle? Wonder jy ook waar om te begin om nuwe vriende te maak?
In 1920 het die sielkundige, George W Crane begin om ’n aandklas in sosiale sielkundige aan die Noordwes-universiteit van Chicago aan te bied. In een van sy klasse (wat meestal deur jong volwasse werkers, wat daagliks in fabrieke, kantore en afdelingswinkels gewerk het, bygewoon is), het ’n meisie genaamd Lois gesit.
Nadat Lois ’n werk in Chicago gekry het, het sy haar vriende en familie in die klein plattelandse dorpie, Wisconsin agtergelaat en na Chicago verhuis. Dit was nie lank voordat die alleenheid en gevoel van isolasie haar ingehaal het nie. Een aand na klas besluit sy om dit met Crane te deel. Sy het hom vertel hoedat sy saans na werk by die huis sit en briewe skryf aan haar geliefdes in Wisconsin. Ook hoe haar dag slegs opgehelder kon word as sy ’n brief van die huis ontvang het.
Uit hierdie gesprek met Lois het Crane ’n idee vir ’n nuwe projek (wat hy die “Komplimente Klub”-projek genoem het) vir sy klasse gekry. Om hierdie projek suksesvol te voltooi moes elke student beide deel 1 en 2 van die projek voltooi:
DIE “KOMPLIMENTE KLUB”-PROJEK:
· Deel 1: Vir dertig dae lank moet elke student daagliks ’n eerlike kompliment aan drie verskillende mense gee (drie is die minimum).
· Deel 2: Ná die dertig dae eksperiment, moet elke student ’n opstel oor sy of haar ondervinding skryf oor:
o Hoe die eksperiment die mense om beïnvloed het?
o Hoe die eksperiment jou uitkyk op die lewe beïnvloed het?
Aanvanklik was ’n klomp van die studente negatief oor die projek. Ander was bang vir verwerping. En nog ander het gesê dat dit vals sou wees om iemand te komplimenteer waarvan jy nie hou nie. Tog het almal vertrek en die projek het begin.
Na die maand: Terwyl George Crane die opstelle van sy studente gelees het, was daar telkens ’n glimlag op sy gesig. Nie net het elke student vertel hoe sy of haar eerlike komplimente ’n positiewe effek op die mense rondom hulle gehad het nie. Bykans al die studente het vertel hoedat hierdie projek hulle uitkyk op die lewe en hulle optrede teenoor hulle medemens totaal verander het.
Een van die studente wat op die punt was om weens haar knorrige baas uit haar werk te bedank, het vertel hoe sy in die maand van die “Komplimente Klub”-projek begin het om elke dag een kompliment aan haar baas te gee (aanvanklik moes sy hard op haar tande byt om dit reg te kry). Mettertyd het daar egter ’n vriendskap tussen hulle ontstaan. ’n Paar maande na die “Komplimente Klub”-projek is hulle twee getroud. En Lois? Nie net het sy in ’n joviale sonskyn mens verander nie. Met die hulp van die “Komplimente Klub”-projek se beginsels het sy in Chicago meer en beter vriende gemaak as wat sy in Wisconsin agtergelaat het.
1 Johannes 4:11-12: “Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword.”
Voel jy vandag alleen? Waarom begin jy nie ook om hierdie “Komplimente Klub”-eksperiment in jou lewe toe te pas nie? Soek na die geleenthede om eerste na ander mense rondom jou uit te reik. Fokus op eerlike komplimente. Jy mag dalk nes Lois verbaas staan oor die verandering wat jy in jou eie lewe gaan beleef. Sterkte.
Vader God, baie dankie vir elke vriend en vriendin in my lewe. Help my asseblief om ’n goeie vriend vir hulle te wees, maar ook om uit te reik na ander wat ek kan sien alleen is. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Botha is ’n radio-aanbieder en vryskutskrywer vir verskeie geestelike en inspirasietydskrifte

PRAKTIESE RIGLYNE OM VRIENDE TE WEN:
1. STAP 1: Vra vir leiding: Vra vir God om jou deur die Heilige Gees te lei. Hy ken jou beter as wat jy jouself ken. Hy kan jou lei na die regte mense wat ’n positiewe invloed op jou lewe sal hê.
2. STAP 2: Kies om eerste uit te reik: Implementeer die beginsels van die “Komplimente Klub”-projek. Jy sal verbaas staan wat jy sal terugkry wanneer jy moeite doen om goed te wees vir die mense rondom jou.
3. STAP 3: Wees die vriend wat jy wil hê. Wat jy saai sal jy ook maai!
Previous article: Vers-n-dag - 29 Januarie Prev Next article: Vers-n-dag - 27 Januarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.