Vers n dag - 8 April 2011
As mag jou in sy mag kry
Johann Symington
Skriflesing
Markus 10:42-45
“Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. 43 Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; 44 en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. 45 Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.â€
Mense sal stry maar mag is ʼn verleidelike kalant. Elkeen wil in beheer wees van sy eie lewe. Ons wil almal koning op ons eie mishoop kraai. Wat is lekkerder as om te voel dat jy ʼn impak op die gedrag van ander maak. Dis moes lekker om êrens ʼn baas te wees – al is jy maar ʼn klein skroefie in die groot geheel.
Die Bybel het niks teen die beginsel van mag nie. God vertrou immers mag aan mense toe. Daar moet tog leiers wees soos konings, generaals, presidente en ja, afdelingshoofde, hoofuitvoerende beamptes, en les bes die hoof van die tiksterpoel. Ons almal streef graag daarna om mag uit te oefen maar om positiewe mag uit te oefen moet ʼn mens dit verantwoordelik kan hanteer. As mag jou afgod word, kan dit jou verteer. Die geskiedenis is vol tiranne, wreedaards, en talle ander magsbeluste leiers wat mens, dier, plant en bodem uitgeput het tot eie voordeel.
Vir Christus lê ware mag egter in die vermoë om te dien. Mag mag nooit ʼn instrument wees waarmee jy ander kan beheer nie; maar waardeur jy hulle kan bedien. Ware grootheid lê in die vermoë om die minste te wees.
As God jou dan bemagtig, maak seker dat jy, soos Christus, bereid sal wees om jou lewe af te lê vir die wat aan jou sorg toevertrou is. Soek hulle voordeel bo jou eie. En onthou dat jy aan God rekenskap moet gee van hoe jy jou mag uitgeoefen het.
Gebed
Here, ons weet dat mag so maklik ʼn houvas op ons kry dat ons vergeet dat alle mag in die hemel en op aarde in u hande lê. Leer my om mag met nederigheid uit te oefen.