Vers n dag - 12 April 2011
Lei jy aan statussiekte?
Johann Symington
Skriflesing
Ps 113:5-8
5-6 Wie in die hemel of op die aarde
is soos die Here ons God,
wat hoog woon en hier onder alles sien?
7 Die geringe help Hy op uit die stof,
die arme laat Hy
van die ashoop af opstaan
8 om hom by vernames te laat sit,
by die vernames van sy volk.
Die woord status kom nêrens in die Bybel voor nie, en tog is dit iets wat ons almal se harte warmer laat klop. Ons wil gesien wees as iemand, ons wil geag word deur ander. Daarvan getuig ons smagting na slanke motors, huispaleise, ontwerpersgoedere, of ons subtiele maniere van praat wat mense laat verstaan dat ons in tel is. Ons omring ons met statussimbole en wedywer met mekaar dikwels ten koste van ons en ander se heil.
Tog sê die Bybel dat mense se waarde nie lê in wat hulle besit of waarmee hulle hulle omring nie. In hemelse terme word mense nie gemeet aan die eksklusiwiteit van die handelsmerke wat hulle dra, of karaat, of perdekrag, of jou adres nie. Trouens, die Bybel het geen erg aan vergangklike skatte nie. Vir die Bybel is dit net belangrik dat ons ons waardes in plek het. Eenvoud is vir Bybel stylvol. Die weggee van statussimbole en die aflê van vertoon is altyd in die mode. Maar om jou aan te stel bo ander en jou beter te ag as ander is vir die Here pynlik, om die minste te sê. Die enigste status wat in die Bybel tel is om ʼn dienskneg te wees.
So het Christus geleef – sober maar stylvol; met eenvoud maar diepte. Daarom pas dit ons nie om ons besig te hou met oppervlakkigheid terwyl ons ons volgelinge noem van die Gekruisigde nie. Tel jou statussimbole een vir een – en jy sal verbaas wees oor hoe min jy vir God kan gee.
Here, dis onmoontlik om U raak te sien tussen al die goed en geld wat ek rondom my versamel het. Here, help my om te kan onderskei tussen dit wat werklik saak maak vir U.