Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 14 April 2011

Die kerkdiens - ʼn afspraak met my siel

Johann Symington

Skriflesing:

Ps 84:6

6 Dit gaan goed met mense

wat hulle krag in U vind

en graag na u tempel toe gaan.

Luk 2:46-49

Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. 47 Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. 48 Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”

49 Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”

So hier op ʼn Donderdagmore wil ek graag ʼn stuiwer in die kollektebordjie gooi en vra: dien kerktoegaan nog regtig ʼn doel? Vir die moderne mens wat ʼn afgod van tyd gemaak het moet Sondag se preek iets om die lyf hê en sy doel dien, anders kry hulle nie iets daaruit nie. En bewaar die arme prediker se siel as hy oor sy tyd gaan dan kon hulle net sowel by die huis gebly het en hulle voorbereiding vir ʼn besige week vorentoe gedoen het.

Sommige mense glo weer hulle kan net so goed tuis aanbid en het nie kerk nodig om te glo nie.(Ek wonder net hoekom Christus dan self gereeld sinagoge toe gegaan het.) Ander voel weer dit word van ʼn goeie landsburger verwag om kerk toe te gaan want dit help om fatsoenlikheid en die status quo in die samelewing te bewaar. Party van ons glo weer die kerk is net vir skynheiliges en sondaars. As jy so oor kerk toe gaan dink, dan is jy eintlik ʼn gevaar en nie ʼn aanwins vir die kerk nie. Die kerk het mense nodig wat deur die vlam van die Gees of die liefde van Christus gedryf word. As ʼn mens kerk toe gaan weens druk uit die samelewing of uit gewoonte of omdat deel van kultuur is, mag jy dalk die kerk van die wal af stoot in plaas van bult op.

Die mens wat hand aan hand hand met sy siel loop weet dat hy ʼn behoefte het aan aanbidding, skuldbelydenis en die herhaling van God se beloftes aan ons. Hy besef dat rituele in die kerk die siel voed en jou in aanraking bring met die misterie, die onbegryplike. Dit maak God vir ons op ʼn simboliese manier teenwoordig. Terselfdertyd bevind jy jou ook in die geselskap van ander wat ʼn ontmoeting met God ervaar en krag skep vir die wêreld daarbuite.

Here ons weet dat u huis nie meer altyd ons tuiste is nie tog is dit die plek waar U ʼn spesiale afspraak met ons het. Help my om met nuwe oë na u kerk op aarde te kyk.

 

Previous article: Vers n dag - 15 April 2011 Prev Next article: Vers n dag - 13 April 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.