Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 15 April 2011

As die mens dink hy’s God.

Johann Symington

Skriflesing

Ps 8:4-7

As ek u hemel aanskou,

die werk van u vingers,

die maan en die sterre

waaraan U 'n plek gegee het,

5 wat is die mens dan

dat U aan hom dink,

die mensekind dat U na hom omsien?

6 U het hom net 'n bietjie minder

as 'n hemelse wese gemaak

en hom met aansien en eer gekroon,

7 U laat hom heers

oor die werk van u hande,

U het alles aan hom onderwerp:

ʼn Mens kan nie stry nie - die mens het in die afgelope paar eeue en in die eerste dekade van die 21ste eeu verstommende dinge reggekry. Goed waarvan ons grootoupas en -oumas nie eens kon droom nie, het skielik waar geword. Ons het die atoom gesplits, wapens ontwerp om van te duisel, harte oorgeplant, mense op die maan gesit en kommunikasie- en vervoermidele daargestel wat die wêreld in ʼn klein dorpie omskep het,  om maar ʼn paar te noem.

Nou vir wat, reken ʼn hele paar mense op die aardbol, moet ons dan nog gehoorsaam wees aan Iemand buite ons begrip. Ons het anderkant die wolke gekyk, en daar’s niemand daar nie, het die eerste ruimtevaarder ons kom vertel. Ons verklaar ons onafhanklik van die Skepper. Dis egter niks nuuts nie. Die mensdom was nog in sy kinderskoene toe begin hy bou aan ʼn wolkekrabber wat na die hemel reik. En deur die eeue heen het ʼn hele paar konings en despote hulle deur mense laat aanbid omdat hulle gedink het hulle is gode. In ons eie tyd het ons ʼn hele reeks megalomaniake gesien kom en gaan en tans sien ons ʼn hele paar  van hierdie sogenaamde messiaanse leiers wat hulle moses teëgekom het. Maar moenie dink dis net leiers wat hulle grootmeneer hou nie. Die spreekwoord “as niets tot iets kom” hou ook ʼn waarheid vir elkeen van ons in. Jy is alleen “iets” deur God se genade.

Gelowiges weet, ten spyte van alles wat ons vermag het, ons is nie God nie. Trouens, ons is nie eens soos God nie. Ons kan onsself nie red nie. Ons rolmodel en die enigste weg tot die waarheid is Jesus Christus wat deur God na ons gestuur is. Die slimmes, die rykes en die magtiges wat probeer God speel, kan maar gaan slaap. Alleen Christus is kan ons waarlik vrymaak.

Vader, vergewe ons dat ons so selfvoldaan is oor alles wat die mensdom bereik het.  Dankie dat U ons telkens bewus maak van ons menslikheid wanneer die fondamente van die aarde wankel en sekerheid soos mis voor die son verdwyn.

Previous article: Vers n dag - 18 April 2011 Prev Next article: Vers n dag - 14 April 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.