Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 19 April 2011

Bereken die prys

Johann Symington

Skriflesing

Johannes 12:3-8

3 Toe het Maria 'n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.

4 Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: 5 “Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?”

6 Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy 'n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.

7 Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis. 8 Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

Soos wat die tyd naderkom wanneer Jesus sy dissipels en die diegene wat vir hom lief was sou verlaat, vind daar ʼn interessante gebeurtenis plaas wat die skerp verskille tussen twee van die mense wat naby aan hom was, belig

Wanneer ons lees van Maria wat Jesus se voete salf met ʼn fles vol duur olie en dit met haar hare afroog in ʼn amper oordadige daad van toewyding, sien ons iets van haar geaardheid raak. Sy is iemand wat vrylik gee sonder om die koste in terme van geld of sosiale aansien in berekening te bring. Al wat sy weet is dat die Een wat haar lewe radikaal verander het, sy dood tegemoet gaan en dat sy hom wil troos en bedank vir wat Hy in haar lewe beteken het. Sy gee in die proses meer as net ʼn duur olie; sy gee van haarself.

Op ʼn manier is Maria se onbaatsugtige daad ʼn vooruitskouing van hoe Christus alles van homself sou gee aan die kruis – sonder voorbehoud, volledig en tot die dood toe. Daarom onthou ons Maria, ten spyte van haar verlede, as iemand wat omgee.

Judas aan die anderkant kyk krampagtig toe. Vir hom het die daad geen betekenis nie want hy het ʼn geheime agenda. In sy hart dink hy waarskynlik: waarom geld verspil op iemand wat in elk geval gaan sterf. Hy beskou dit as ʼn onnodige verkwisting van van geld. Die ergste is dat hy sy inhaligheid bedek onder die skyn van omgee vir die armes.

Maar was sy vermaning aan Maria om nie geld te mors wat die armes kon help nie korrek nie? Miskien, maar daar is tye wanneer dit belangriker is om nie die koste in berekening te bring nie. Jesus was diep ontroer deur Maria se optrede terwyl Hy Judas se skynheiligheid aan die kaak stel met ʼn oënskynlik harde antwoord oor die armes wat ons altyd by ons sal hê.

In die lig van Goeie Vrydag, kom ons herdenk Jesus se onselfsugtige gawe deur ʼn slag van onsself te gee sonder om die koste te bereken.

Here, soos wat die Lydensweek sy loop neem, kom ons weereens diep onder die indruk van die manier waarop U gegee het – onbaatsugtig en selfs aan sondaars soos Judas en myself.

Previous article: Vers n dag - 20 April 2011 Prev Next article: Vers n dag - 18 April 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.