Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers-n-dag - 29 Januarie

HUIDIGE REEKS: Die huidige reeks is getiteld: “Hoe of hoekom om te...” Vandag se tema: “Hoe of hoekom om vir jou beskerming te bid?”
NEEM DEEL: Het jy spesifieke temas waaroor jy graag meer wil lees, stuur gerus ’n epos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

DAG 15: “Hoe of hoekom om vir jou beskerming te bid?” (Sagaria 2:4-5; Job 1:10; Psalm 34:7)
Deur: Benescke Botha

’n Getuienis van ’n Suid-Afrikaanse man wat die Haiti aardbewing oorleef het:
Sondag, 10 Januarie 2010. Saam met die res van sy gemeentelede wat daardie volgende week êrens heen sou reis, het die Kaapse sakeman, Theo Joubert na voor in sy kerk gestap waar die predikant vir hulle beskerming gebid het.
Dinsdag, 12 Januarie 2010. 16:00. Na ’n vlug van 30 ure het Theo in Haiti geland waar sy vennoot, Jean-Paul hom op die lughawe kom oplaai het. In stede daarvan dat Theo soos gewoonlik eers by die hotel kon gaan inboek en stort, het Jean-Paul hom meegedeel dat ’n vergadering met ’n moontlike belegger op hulle gewag het.
Vyftig minute later, terwyl Theo en Jean-Paul steeds op pad na die kliënt was, het hulle motor skielik na die linkerkant van die pad geswaai. Toe Jean-Paul vinnig omkyk om te sien of die motor se wiel afgekom het, is die motor skielik na die regterkant van die pad geslinger. Langs die pad het die geboue inmekaar begin tuimel en dit is toe die twee mans voel hoe die aarde onder hulle bewe en skud dat hulle besef het dat hulle in die middel van ’n aardbewing was. Onmiddellik het Theo vir hulle veiligheid begin bid.
Twintig sekondes later het alles stilgeword. Deur die rook en stofwolke het Theo-hulle nou die histeriese geskree en gesnik van mense langs die pad gehoor waar ’n menigte nou die liggaam van ’n beseerde of afgestorwe geliefde in hulle arms vasgehou het. Alle vorme van kommunikasie (selfoonnetwerke, radiostasies, die internet) in hierdie Franse land was ook meteens afgesny.
Vir die volgende 45 minute met Jean-Paul en Theo met moeite deur die agterstrate van die stad gery om by Jean Paul se familie uit te kom. Dit was die enigste manier om te bepaal of hulle die ramp oorleef het. Geskok het hulle gekyk na bykans al die hotelle langs die pad wat in duie gestort het. Die verligting was groot toe hulle eindelik Jean-Paul se huis haal en sien dat niemand ernstig beseer is nie.
Vir die volgende vyftien uur het Theo tevergeefs probeer om kontak te maak met sy familie in Suid-Afrika. Teen vroegoggend het Jean-Paul vertrek om diesel vir die kragopwekker te gaan koop omdat die elektrisiteit in Haiti steeds uit was. In die 10 minute wat hy weg was en Theo alleen by die huis was, het Theo ernstig met God gepraat en Hom gevra om op een of ander manier vir sy vrou, Michelle in Suid-Afrika te laat weet dat hy veilig is.
In Suid-Afrika het Michelle skielik ’n vreemde Franse boodskap op haar selfoon gekry wat haar laat besef het dat dit moontlik Theo kon wees wat met haar probeer kontak maak het. Sy het onmiddellik na Theo se besigheid gery waar sy een van sy kollegas gekry het wat toe reeds heel oggend tevergeefs probeer het om na Jean-Paul se selfoon deur te kom. Met hulle eerste probeerslag het hulle dadelik Jean-Paul se stem aan die anderkant van die lyn gehoor. Hy was steeds besig om diesel te kry, maar kon hulle vertel dat Theo veilig was.
God wil jou ook daagliks beskerm. Vra jy Hom daarvoor? Luister weer na hierdie drie beloftes:
· Sagaria 2:4-5: “Ek (God) sal ’n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”
· Job 1:10: “Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie?”
· Psalm 34:7: “Die Engel van die HERE trek ’n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.”
Besef jy dat as Theo by sy aankoms in Haiti direk na die hotel gegaan het, hy heel moontlik onder die pyn van sy verwoeste hotel vasgevang sou wees? Was dit God se hand van beskerming? Net so kan jy ook vandag vra dat God jou met sy muur van vuur en beskermingsengele van alle kante af sal beskerm en bewaar. Gaan jy dit doen?
Vader God, baie dankie dat ek U kan vra om my en my geliefdes vandag te beskerm. Plaas asseblief die muur van vuur reg rondom ons en help ons om ons oë op U te midde van enige gevaar. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Botha is ’n radio-aanbieder en vryskutskrywer vir verskeie geestelike en inspirasietydskrifte

PRAKTIESE RIGLYNE OM VIR BESKERMING TE BID:
1.       STAP 1: Besef dat God in beheer is: God is almagtig en geen wapen wat teen jou gesmee word kan slaag nie.
2.       STAP 2: Bid vir God se muur van vuur rondom jou: Vertrou dat God jou gebede hoor.
3.       STAP 3: Sê vir God dankie: Rus in Hom en sê in geloof vir Hom dankie vir jou beskerming.
Previous article: Vers-n-dag - 1 Februarie Prev Next article: Vers-n-dag - 28 Januarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.