Vers n dag - 28 April 2011
Watter deel van versoening verstaan jy nie?
Johann Symington
Skriflesing
2 Korintiers 5:18 – 19 (verkort)
Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. ... Die boodskap van vesoening het Hy aan ons toevertrou.
Die konsep van versoening loop soos ’n goue draad deur die Bybel. God het so sterk daaroor gevoel dat Hy Sy seun gestuur het om daarvoor te sterf. Deur Sy dood het Hy ’n brug gebou waar daar voorheen ’n afgrond was en het Hy ’n bres geslaan tussen mure wat skeiding tussen mense gemaak het. Hy het die plek van die offerdier geneem ter wille van ons.
In die Ou Testament lees ons van ’n ingewikkelde klomp rituele wat die slag van offerdiere behels wat vir ons in ’n moderne konteks vreemd klink. Tog is dit ’n heenwysing na die dood van Christus. Dit was terselfdertyd die hoogste offer en ook die laaste offer. Nooit weer hoef iets of iemand geoffer te word om versoening te bring nie. Jesus was die volmaakte offer wat die deur na God oopgemaak het. Jesus het ook die mure tussen Jood en nie-Jood afgebreek. Deur Christus se offer kon alle mense kinders van God genoem word en een word in Christus.
Vir ons in Suid-Afrika is dit van besondere belang. Ons leef in ’n land waar versoening noodsaaklik maar verskriklik moeilik is. Dis die moeilike deel. Die maklike deel is dat die oorgrote meerderheid van mense in ons land toegewyde Christene is. Die vraag is dus, wat gaan jy as Christen vandag doen om versoening in hierdie moeilike tye rondom die verkiesing waar te maak? Mag God jou hulp en jou lig op hierdie moeilike dog noodsaaklike pad vorentoe wees.
Here, dikwels voel ons nie lus om tou op te gooi op hierdie pad van versoening nie, tog het U Seun nie geskroom om tot die uiterste te gaan nie. God help ons om die tweede en selfs die derde myl te loop as dit is wat dit vra om versoening te bewerkstellig. Amen.