IS DAAR IETS SOOS “CHRISTELIKE MEDITASIE”:

Met die reeks oor die okkulte, het ek heelwat navrae van lesers gekry wat by my wou weet wat bedoel word met “Christelike meditasie”. Verlede week se “eksperiment” is my antwoord op daardie vraag. Wanneer ons God se Woord en beloftes oordink, kom openbaar die Heilige Gees aan ons nuwe insigte oor God se karakter, wat ons geloof en hoop in die proses versterk.

OORSPRONG VAN “CHRISTELIKE MEDITASIE”:

Net voordat Josua en die Israeliete die beloofde land van Kanaän betree het, was Josua doodbang omdat die verantwoordelikheid om die nasie te lei wat vroeër op Moses se skouers gelê het, nou na hom oorgedra was. Luister na hoe God vir Josua in Josua 1:8-9 bemoedig:

Josua 1:8-9: “Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

Elke keer wanneer Josua oor die Woord van God nagedink het (net soos ons verlede week met die “eksperiment” gedoen het), het dit hom herinner aan wie God is. Dit het sy geloof en hoop te midde van sy uitdagings versterk en hom in staat gestel om God vir die onmoontlike te vertrou.

Sit jy vandag in ’n situasie waar jy soos Josua doodbang voel vir die verantwoordelikheid wat op jou skouers rus? Dalk is daar ’n situasie in jou werkplek of gesin wat jy weet net met God se hulp opgelos kan word? Oordink dan gerus hierdie teksvers vir vandag:

Josua 1:9: “Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

Fokus op jou reus in jou lewe en jy sal struikel. Fokus op God en jou reus val op sy neus! Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u Woord en beloftes wat vasstaan. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om vandag my hoop en krag opnuut in U te vind. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Lees gerus die terugvoer-getuienisse wat ons van ’n paar lesers ontvang het in reaksie op die “eksperiment” van verlede week op ons webwerf – sien inligting hier onder.


 

 

Â