Vers n dag - 17 Augustus 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms
DAG 32: VIER ELKE SEISOEN
Deur Benescke Janse van Rensburg
Agtergrond: Ná gister se boodskap dat ons op God se tyd moet wag vir deurbrake in ons lewens, het verskeie lesers getuig hoe hulle dit in die werkplek beleef het. Hier is ’n uittreksel van Jana van der Vyver, ’n Vers-’n-Dag leser, se e-pos aan my:
Jana: “Ek en my man, Nico is in April 2000 getroud. Kort voor ons troue het hy na ’n lang gesoek ’n goeie werk gekry en ons toekoms was verseker. Skaars drie maande na ons troue is Nico egter afgelê. Dit het gevoel asof ons lewens in duie stort. Menige kere het ek vir God gevra waarom Hy dit toegelaat het. Tog het ons aangehou om ons oë op God te hou en te vertrou dat Hy die regte deurbraak op die regte tyd sou bewerkstellig. My man het oral vir werk aansoek gedoen en ook sy CV vir ’n werkverskaffingsagentskap gegee. Hulle het hom gou van ’n werksonderhoud laat weet vir ’n pos wat nie noodwendig in my man se belangstellingsveld geval het nie. Al wou ons dit aanvanklik van die hand wys, het my man na baie gebede besluit om wel vir die onderhoud te gaan. Met die werk sou hy immers ’n salaris verdien totdat hy ’n beter werk kon kry.
“By die onderhoud het my man en die onderhoudvoerder baie lekker gesels en my man het die pos gekry. Na slegs twee weke by die maatskappy, het die werkgewers my man se potensiaal raakgesien en hom bevorder.
“Vandag, elf jaar later, sit my man in ’n baie goeie pos in dieselfde maatskappy en hy geniet sy werk baie. Omdat my man getrou was met wat God aan hom gegee het, kon God hom bevorder op die tyd wat Hy daarvoor bestem het. Ons gee al die eer aan God.”
Jana is reg. God kyk na ons gesindheid in elke seisoen. Luister na Jesus se woorde in Lukas 16:10: “Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.”
As ons getrou bly in elke seisoen, kan ons vashou aan God se woorde in Psalm 32:8: “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.”
God ken die toekoms en Hy kan enige situasie omdraai om ten goede vir ons te werk as ons aanhou om Hom te vertrou. Kom ons bly getrou in elke seisoen. Sterkte!
Vader God, baie dankie dat U my gebede hoor en verhoor op die regte tyd. Lei my om getrou te bly in elke seisoen. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
* Sien ’n foto van Jana en haar man, Nico op die sosiale netwerk, Fbook se STORIES VAN HOOP bladsy.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
- VROUEKAMP:
- Benescke Janse van Rensburg tree op as spreker hierdie naweek 19-21 Augustus 2011 op Bredasdorp. Vir meer inligting, kontak Riana Coetzee by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. - ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus