Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 26 Augustus 2011

Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms

DAG 39: GOD WEET VAN JOU

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: Dankie aan elke luisteraar wat sy of haar getuienis gister vir my gestuur het. Ek deel graag uittreksels uit drie van die e-posse.]

Leser 1, Ethney: “Ek is ’n diabeet en asmalyer. Vanaf 8 Junie hierdie jaar sukkel ek om gesond te word. Maandag is ek in Bloemfontein gehospitaliseer omdat die pyn agter my blad nie wil weggaan nie. Dinsdag moes ek gaan vir nier-, lewer-, pankreas- en galblaastoetse om te bepaal of die pyn dalk ’n gevolg is van my diabetes wat my organe permanent beskadig het. Ek was baie bekommerd en het gebid dat God sou ingryp en my genees. Ek het die toetsuitslae teruggekry en alles is negatief. My suikertoetse is binne perke en daar is bepaal dat longvliesontsteking die pyn agter my blad veroorsaak. Daar is dus geen permanente beskadiging aan my organe nie. Al die eer kom God toe.”

Leser 2, Cindy: “Ek besit my eie skoonheidsalon. Die afgelope twee jaar was moeilik omdat die besigheid soms baie stil was. Een spesifieke maand het dit vir my gelyk asof ek my besigheid sal moet sluit aangesien my agterstallige rekeninge al meer opgehoop het. In hierdie tyd het ek alles volkome aan God oorgegee en Hom vir ’n deurbraak vertrou. Dit was ’n baie donker tyd vir my. Tog het ek begin beleef hoe my besigheid in die daaropvolgende maande al meer opgetel het. My groot droom vir die afgelope drie jaar was om ’n spesifieke nuwe masjien vir my besigheid aan te koop omdat dit my besigheid verder sou uitbrei. Sowat ’n jaar gelede het ek spesifiek daaroor begin bid en vir God gevra om my te help om die masjien te bekostig. Alles het in plek geval en met opgewondenheid kan ek vertel dat my masjien oor twee weke afgelewer word. Ek eer God vir sy voorsiening!”

Leser 3, Madeli: “Oor ’n tydperk van nege jaar het ons baie vir ’n kind van ons eie gebid. In hierdie tydperk het ek sewe miskrame gehad – wat ’n proefbuis tweeling insluit. Elke miskraam was ’n geweldige slag vir ons en ’n tyd waarin ons nuut moes leer om ons geloof in God te plaas as die bron van lewe. God het ons gebede beantwoord en vandag is ons ouers van twee pragtige dogtertjies – ’n sesjarige en ’n tweejarige. Elke keer as ek na hulle kyk besef ek dat hulle ’n geskenk direk uit sy hand is. Ek dank God vir sy ingryping en geskenk.”

Ons lesers is reg. God is die geneser, die voorsiener en op sy tyd beantwoord Hy ons gebede as ons aanhou om op Hom te vertrou. Luister na die Psalmdigter se woorde in Psalm 34:6: “Die wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie.”

Kry jy vandag swaar? Is jy dalk op moedverloor se vlakte? Hou jou oë op Hom, want Hy sal niemand teleurstel wat sy of haar verwagting in Hom stel nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek nooit paniekerig hoef te word nie, maar dat ek kan weet dat U op die perfekte tyd my gebede sal beantwoord. Help my om nooit moed te verloor nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

* Sien foto’s van lesers op die sosiale netwerk, Fbook se STORIES VAN HOOP groep.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte. Vir meer inligting, besoek www.benescke.co.za.

NUUSBROKKIES:

  • ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
  • MOTIVERINGSPRAATJIES:  Benescke tree op as spreker:
  • 22 September 2011, Stellenbosch. Kontakpersoon: Minette by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  • 5 November 2011, Bloemfontein. Kontakpersoon: Mariana by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..  

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit kan oor enigiets wees. Ons deel dit van tyd tot tyd met die lesers. Dankie. Benescke

As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 29 Augustus 2011 Prev Next article: Vers n dag - 25 Augustus 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.