Vers n dag - 29 Augustus 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms
DAG 40: LAAT GOD DIE DONKER TYE IN JOU LEWE VERLIG
Deur Benescke Janse van Rensburg
Barnard 68. Het jy al ooit van hierdie sogenaamde “donker gat” tussen ’n Melkweg van sterre in die hemelruim gehoor? Kyk gerus na hierdie foto: http://en.wikipedia.org/wiki/File:Barnard_68.jpg
Volgens sterrekundiges ontstaan hierdie “gat” oftewel donker molekulêre wolk in die hemelruim omdat ’n groot konsentrasie stof en molekulêre gas al die lig van die sterre in die agtergrond absorbeer wat dit ’n donker voorkoms gee. Hoewel dit nie heeltemal duidelik is wat tot ’n Barnard 68 aanleiding gee nie, is bevind dat hierdie plek, wat as die koudste en mees geïsoleerde plek in die heelal beskryf word, die plek is waar nuwe sterre gevorm word.
In ons lewens bevind ons onsself ook van tyd tot tyd in ’n Barnard 68-fase waar dit voel asof ’n “donker molekulêre wolk” ons sprankel en vreugde in ons lewens absorbeer en uitwis. Hierdie wolk kom in verskillende vorms. Soms is dit bitterheid oor die verlede of ’n onvergewensgesindheid in ons hart. Ander kere is dit stres by die werk, ’n onredelike kollega of werkgewer, ’n uitdaging met een van ons kinders, vrees dat ons nie ons rekeninge aan die einde van die maand sal kan betaal nie, ’n gebroke verhouding of die hartseer na die afsterwe van ’n geliefde.
Wat is jou reaksie in hierdie fases? Isoleer jy jouself of kies jy om soos die Psalmdigter na God te gaan met die wete dat Hy jou sprankel kan en wil herstel? Luister weer na die woorde in Psalm 23:1,3,6: “Die HERE is my herder. . . Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil. . . U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” (1953-hersiening).
Sit jy vandag in ’n Barnard 68-fase in jou lewe? Onthou, God kan hierdie donker fase gebruik om jou karakter te vorm en jou nader aan Hom te trek terwyl Hy terselfdertyd nuwe, helderder sterre in jou lewe skep. Kom ons kies dus om aan Hom vas te hou terwyl ons vertrou dat Hy die donker wolke sal opklaar om ons in staat te stel om ’n lewe te lei wat van sy goedheid en guns getuig. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat geen donker situasie in my lewe ooit te donker is vir U om te herstel nie. Kom verkwik my siel en lei my op die spore van geregtigheid, om u Naam ontwil. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Kyk hier na ’n foto van die Barnard 68: http://en.wikipedia.org/wiki/Barnard_68
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte. Vir meer inligting, besoek www.benescke.co.za.
NUUSBROKKIES:
- ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription. - MOTIVERINGSPRAATJIES: Benescke tree op as spreker:
- 22 September 2011, Stellenbosch. Kontakpersoon: Minette by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. - 5 November 2011, Bloemfontein. Kontakpersoon: Mariana by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus