Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 12 Februarie

HUIDIGE REEKS: “Hoe of hoekom om te...”
NEEM DEEL: Het jy spesifieke temas waaroor jy graag meer wil lees, stuur gerus ’n epos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

DAG 25: HOE OM SIN TE MAAK UIT MOEILIKE SITUASIES?
Deur: Benescke Botha
Louis en Hettie Brittz, Job en Lasarus. Wat het hierdie drie insidente in gemeen?
Maandagoggend rondom 02:15 was gospelsanger, Louis Brittz besig om in hulle huis in Centurion in sy studio te werk. Sy vrou, Hettie en hulle drie jong kinders het rustig op die boonste verdieping geslaap. Skielik het vier rowers hom oorval, vir Louis vasgebind en minute later vir Hettie verkrag voordat hulle met heelwat van die Brittz-egpaar se besittings op die vlug geslaan het.
Flits saam met my terug in tyd. Job was ’n geweldige ryk man in die land, Us. Buiten vir sy sewe seuns en drie dogters het hy ook 7,000 stuks kleinvee, 3,000 kamele, 500 trekosse, 500 donkies en baie slawe besit. Hy was die belangrikste man in die ooste. Toe, op ’n gewone dag het hy die nuus gekry dat sy osse geroof is, dat weerlig die kleinvee en wagters doodgeslaan en verbrand het, dat drie vyandige groepe al sy kamele geroof het en dat al sy kinders op slag dood is toe ’n sterk wind die huis inmekaar laat tuimel het.
En Lasarus, die geliefde vriend van Jesus het geweldig siek geword. Uit Betanië, die dorp waar Maria en hulle suster Marta gewoon het, het hulle ’n boodskap na Jesus gestuur dat hy dadelik moes kom omdat hulle broer besig was om te sterf. Met die aanhoor van die nuus, het Jesus gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Hierna het Jesus nog twee dae op dieselfde plek gebly voordat hy besluit het om na Lasarus te gaan. Teen hierdie tyd was Lasarus reeds dood.
Nadat Hetttie se verkragting vroeër die week die nuusblaaie gehaal het, het ek heelwat eposse van lesers gekry met dieselfde vraag: “Hoekom het God dit toegelaat? Waar was Hy?” Ek is oortuig daarvan dat Job en Lasarus se vriende eens dieselfde vrae gevra het.
Tog, teen die einde van Job se storie, lees ons dat hy nooit vir God verwyt het nie. Hy het die toets geslaag en daarby saam vir die eerste keer werklik ’n ontmoeting met God gehad. Luister maar na sy woorde in Job 42:5 “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien...” God het aan Job dubbeld van die rykdom, kinders en besittings teruggegee in die laaste gedeelte van sy lewe.
Op Marta se verwyte dat as Jesus vroeër gekom het, Lasarus steeds sou geleef het, het Jesus geantwoord: “Jou broer sal uit die dood uit opstaan.” Deur sy trane het Jesus minute later voor Lasarus se graf na hom uitgeroep om uit die graf te kom. Lasarus het. En dan lees ons in Johannes 11:45 dat baie van die Jode wat gesien het wat Jesus gedoen het, daarna tot geloof in Hom gekom het.
En Hettie en Louis Brittz? In ’n onderhoud wat Radiokansel gister met Hettie gedoen het, het sy hierdie ervaring as ’n “litteken” vir haar in die geestelike oorlog (wat Jesus reeds oorwin het), beskryf. Sy het gesê dat sy weet dat haar en Louis se roeping is om te sien dat Suid-Afrika terug na God draai en dat sy weet dat God hierdie gebeurtenis gaan gebruik om hulle grondgebied slegs verder te vergroot. Haar woorde aan die einde van die onderhoud het my diep getref: “Na hierdie gebeurtenis sal ek nooit weer twyfel in God se vermoë om te red, te beskerm en te versorg nie!” Hulle werk steeds hard daaraan om die Draai terug na God geleentheid op 6 Maart by die Uniegebou in Pretoria ’n groot sukses te maak (kyk na skakels onderaan stuk ons nuusberig te lees of na radio-onderhoud te luister).
Romeine 8:28: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
Sit jy dalk vandag in ’n situasie waar jy ’n traumatiese gebeurtenis in jou lewe moet werk? Onthou, net soos Hettie, is jy nie alleen nie. Draai na God. Hy is reg langs jou en Hy wag reeds vir jou. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat wanneer ek deur ’n dal van doodskaduwee gaan, dat U reg langs my is. Beskerm my asseblief vandag en help my om nie in vrees te leef nie, maar met my oë op U – en met die wete dat U alles ten goede kan laat meewerk. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Luister na Radiokansel op www.radiokansel.co.za. Die onderhoud behoort deur die loop van die oggend op die web beskikbaar te wees.
** Nuusartikel op News24: http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/b68e4eb8d4c447319b99774d1ac2729e/11-02-2010-08-52/Gospelsanger_se_vrou_praat_oor_verkragting
** Wees deel van die Turn2God of Draai terug na God geleentheid wat op 6 Maart 2010 by die Uniegebou in Pretoria aangebied word. Besoek hulle webwerf by http://www.turn2god.co.za/ Louis is een van die kunstenaars wat daar sal optree.
Previous article: Vers n dag - 15 Februarie Prev Next article: Vers n dag - 11 Februarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.