Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 12 Januarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 4: ’N NUWE BEGIN... MET NUWE GELOOF IN GOD SE BELOFTES VIR JOU

Deur Benescke Janse van Rensburg

Is daar beloftes wat God reeds lankal vir jou gegee het, maar wat nog nie in vervulling gegaan het nie? Bid jy dalk al lank vir ’n baba, ’n finansiële deurbraak, vir versoening met ’n geliefde, verbetering in jou werksomstandighede of genesing van ’n siekte? Aanvanklik was jy vuur en vlam terwyl jy gebid het, maar as jy eerlik moet wees is die twyfelmonster besig om soms aan jou te knaag?

Luister weer na die woorde in Numeri 23:19: “God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie, ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?”

In die boek Promissio und Bund skryf Bartold Lappert: “God handel nooit anders met die mens as deur sy beloftewoord nie. En die mens kan nie met God anders omgaan as deur geloof in sy beloftewoord nie.”

God se Woord en beloftes staan vas. Abraham was immers al 100 jaar oud en sy vrou Sara 90 toe die belofte van ’n baba in vervulling gegaan het. Moses was al 80 jaar oud, toe God uit ’n brandende bos met hom gepraat het en die belofte in vervulling kom dat Moses die volk van Israel uit Egipte sou bevry. En Gideon het met net driehonderd krygers die oorlog ingestap omdat God beloof het dat Hy hulle sou beskerm en aan hulle die oorwinning sou gee. Dit is wat gebeur het.

By God is daar geen beperkinge nie. Hoe groter die uitdaging, hoe groter is die deurbraak. Wanneer die twyfel dus weer begin knaag, gaan terug na God se Woord en skryf die beloftes neer wat van toepassing is op jou uitdagende situasie. Só kan jy jou twyfel beveg en wie weet, dalk nog in 2012 jou deurbraak beleef! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U in beheer is van elke situasie in my lewe en dat u tydsberekening perfek is. Help my om nie moed te verloor as ’n deurbraak dalk langer neem as waarop ek gehoop het nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 13 Januarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 11 Januarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.