Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 13 Januarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 5: ’N NUWE BEGIN... MET BUITENGEWONE GELOOF

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: Wanneer laas het jy God vir die bonatuurlike vertrou? Hier is twee getuienisse van lesers wat getuig dat God steeds wonderwerke doen.]

Leser 1, Brenda: “Aan die begin van verlede jaar is my en my man se opgewondenheid oor die motor wat ons as verrassing vir my seun vir sy agtiende verjaarsdag gekoop het, geblus toe ons geskok sien dat dit uit ons motorhuis gesteel is – ’n paar dae voor sy verjaarsdag!

“Ons het dadelik die polisie gebel. Tog, soos die dae verbygegaan het, het die kanse om die motor terug te vind al skraler geword. Ook ons vriende het my probeer paai en gesê dat ek maar moes aanvaar dat ons dit nie sou terugkry nie. Ek en my buurvrou het egter aangehou bid vir ’n wonderwerk – en spesifiek dat God die diewe so onrustig sou maak dat hulle die motor aan ons sou terugbesorg. Vir baie mense het dit verregaande geklink!

“Die oggend van my seun se verjaarsdag het ek op pad werk toe opnuut gebid: ‘Here, U weet hoe graag ek en my man die motor aan ons seun wou gee op hierdie dag. Nogtans vertrou ek dat U in beheer is . . .’

“Toe ek teen vieruur daardie dag by die huis kom, het ons buurvrou my laat weet dat die polisie vroeër die dag daar was en na ons gesoek het. Ons het hulle dadelik gekontak en die nuus ontvang dat my seun se gesteelde motor daardie oggend voor die polisiekantoor in Macassar, ’n woonbuurt langs die N2 buite Kaapstad, gevind is. Die diewe het dit gedurende die nag met die sleutel steeds in die motor daar parkeer en laat spaander. Al die eer kom God toe! Hy het die onmoontlike moontlik gemaak.”

Leser 2, Bernadette: “My dogter, Zanelle moet hierdie week as student by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) registreer waar sy ’n tweedejaarstudent is. Hoewel ek nie finansieel sterk is nie, doen ek alles in my vermoë om haar te help omdat sy graag haar graad wil verwerf. Ek gebruik gewoonlik my bonus aan die einde van die jaar om vir die registrasie te betaal, maar aan die einde van 2011 kon my werkgewer geen bonusse uitbetaal nie. My dogter het heelweek gestres, maar elke keer het ek vir haar gesê: ‘Moenie stres nie. God sal aan ons ’n uitweg gee.’

“Gister het ons ’n e-pos van die universiteit ontvang waarin ons meegedeel is dat my dogter se aansoek om ’n merietebeurs suksesvol was. Sy hoef dit dus nie terug te betaal nie. Ek gaan later vandag universiteit toe om haar vir 2012 te gaan registreer. Ek dank God vir hierdie wonderwerk!”

Brenda en Bernadette is reg. Ons kan God vir die onmoontlike vertrou. Luister maar weer na die woorde in Efesiërs 3:20-21: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe . . . tot in alle ewigheid. Amen.”

Waarvoor vertrou jy God vandag? Gaan jy soos Brenda en Bernadette aanhou om God te vertrou totdat jy jou deurbraak beleef? Sterkte.

Vader God, baie dankie dat geen uitdaging ooit vir U te groot is nie. Help my om my geloof en vertroue in U te plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk na ’n foto van Brenda en Bernadette op die sosiale netwerk, FBook se STORIES VAN HOOP bladsy.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 16 Januarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 12 Januarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.