Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 19 Februarie

HUIDIGE REEKS: “Hoe of hoekom om te...”
NEEM DEEL: Die huidige “Hoe of hoekom om te...”-reeks word vir eers met ’n “mini-reeks” getiteld, “Hoe om die Heilige Gees beter te verstaan?” (Deel 1 tot 10) afgesluit. Het jy enige spesifieke vrae rondom hierdie tema, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

DAG 30: HOE OM DIE HEILIGE GEES BETER TE VERSTAAN? (DEEL 5 van 10)
Deur: Benescke Botha
DEEL 5: DIE ROL VAN DIE HEILIGE GEES IN ’n GELOWIGE EN ONGELOWIGE SE LEWE
Die volstruiseier, die fluisterstem en die marmerblok. Vandag wil ek hierdie drie beelde gebruik om iets van die Heilige Gees se rol in ons en ons ongelowige geliefdes se lewens te verduidelik:
BEELD 1: DIE VOLSTRUISEIER
Het jy al ooit na ’n leë volstruiseier gekyk? Slaan nou met ’n hammer (wat ’n krag van buitekant af is) op die leë eier en jy sal vind dat dit maklik breek. Hoekom? Omdat dit geen krag van binnekant af het om die aanslag te beveg nie. Dit is hoe ons lewens is wanneer ons sonder die Heilige Gees se krag aan ons binneste probeer oorleef. In Filippense 4:13 lees ons: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” Hoe gee Jesus Christus aan ons die krag? Deur die werking van die Heilige Gees.
BEELD 2: DIE FLUISTERSTEM
Het jy al ooit gewonder hoe ’n ongelowige mens skielik op ’n punt kan kom waar hy/sy besef dat hulle as sondaar ’n Verlosser benodig – en dat hierdie Verlosser se Naam Jesus Christus is? Dit gebeur deur die fluisterstem van die Heilige Gees wat aanhoudend in daardie persoon se hart en gewete gewerk het. Dit is immers wat Jesus aan sy dissipels gesê het in Johannes 16:8,13-14: “Wanneer Hy (die Heilige Gees) kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde... die Gees van die waarheid, sal julle in die hele waarheid inlei... Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”
Jy kan dus verseker weet dat elke keer as jy vir jou ongelowige huweliksmaat of geliefdes bid, iets gebeur. Jy sien dit dalk net nie noodwendig dadelik raak nie, maar weet maar dat die Heilige Gees (dalk juis op hierdie oomblik) besig is om in daardie persoon se hart te werk!
BEELD 3: DIE MARMERBLOK
Het jy al ooit gelet op die presiesheid en akkuraatheid van marmerbeelde wat kunstenaars soos Michaelangelo, Da Vinci en vele ander deur die eeue geskep het? Sommige van die beelde het selfs jare geneem om voltooi te word. Om so ’n beeld suksesvol uit die marmerblok te kap, was dit belangrik dat die kunstenaar presies vooraf moes weet hoe die finale beeld moet lyk. In ’n onderhoud met ’n bekende beeldhouer, het die joernalis hom gevra hoe hy dit regkry om sulke asemrowende beelde uit ’n eenvoudige marmerblok te skep. Hy het geantwoord: “Dit is eintlik heel eenvoudig. Sodra ek die finale beeld in my kop het, kap en timmer ek bloot alles uit die marmerblok weg wat nie by die finale beeld in my kop pas nie!”
Die Heilige Gees het ook ’n beeld in gedagte. En dit? Die beeld van Jesus Christus. Luister weer na die woorde in 2 Korintiërs 3:15-18: “... waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (die Heilige Gees).”
Het jy die Heilige Gees al ingenooi in jou lewe? Het jy al aan Hom toestemming gegee om te kap en timmer waar dit in jou lewe benodig word sodat jy daagliks meer soos Jesus kan word? Waarom doen jy dit nie sommer nou deur hierdie gebed hier onder met ’n opregte hart te bid nie:
Vader God, in u Woord lees ek dat U my wil heilig maak soos u heilig is. Vandag wil ek U toestemming gee om deur u Heilige Gees in my lewe te begin werk om my meer soos Jesus Christus te maak. Kap dit dinge weg wat in die pad staan en help my as ’n goeie vennoot met U en die Heilige Gees saam te werk in my strewe na ’n heiliger lewe voor U. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Previous article: Vers n dag - 22 Februarie Prev Next article: Vers n dag - 18 Februarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.