Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 25 Februarie

HUIDIGE REEKS: “Hoe of hoekom om te...”
NEEM DEEL: Die huidige “Hoe of hoekom om te...”-reeks word vir eers met ’n “mini-reeks” afgesluit getiteld, “Hoe om die Heilige Gees beter te verstaan?” (Deel 1 tot 10). Het jy enige spesifieke vrae rondom hierdie tema, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

DAG 34: HOE OM DIE HEILIGE GEES BETER TE VERSTAAN? (DEEL 9 van 10)
Deur: Benescke Botha
DEEL 9: KAN EK DIE HEILIGE GEES BEDROEF MAAK?
’n Predikantsvriend van my vertel my onlangs van hierdie droom van hom:
In die vertrek waarin hy op ’n bankie gesit het, het hy ’n bang klein dogtertjie in die hoek sien sit. Sy het behoorlik van vrees gebewe. In ’n sagte stem het hy met haar gepraat: “Kom hier na my toe. Moenie bang wees nie.” Sy het eers vir ’n oomblik gehuiwer voordat sy stadig opgestaan het en bang-bang nader gekom het na hom toe.
Dit is egter net toe sy voor hom staan dat hy in sy droom sien hoedat hy ’n vurk uit sy sak trek en dit in haar bo-been steek. Geskok het sy in trane van hom af weggevlug om weer in die hoek te gaan sit. In daardie oomblik het my vriend wakker geskrik terwyl hy duidelik kon hoor hoe God deur sy Gees met hom praat: “Dit is presies wat julle aan die Heilige Gees doen. Julle nooi Hom met groot bravade in, maar dan, net as Hy daar is, kies julle om te sondig. Besef julle dan nie watter effek julle sonde op die Heilige Gees het nie?” Instinktief het my vriend besef dat die vurk in die klein dogtertjie se been ons sonde teen die Heilige Gees gesimboliseer het. Luister weer na Paulus se waarskuwing in Efesiërs 4:
· Efesiërs 4:30: “... moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.”
HOE BEDROEF JY DIE HEILIGE GEES?
Kies jy daagliks die Heilige Gees se leiding in jou lewe of gee jy toe aan jou sondige natuur se verleidings? Die Heilige Gees is ’n persoon is wat emosie ervaar en geweldig sensitief is vir sonde. In Efesiërs 4 en ook in Efesiërs 5 is daar verskeie elemente wat kan veroorsaak dat jy die Heilige Gees in daad of in jou hart kan bedroef. Hier is ’n paar van daardie elemente:
· Wanneer ons soos ongelowiges lees (Efesiërs 4;17-19)
· Deur leuens te vertel (Efesiërs 4:25)
· Deur woede in ons harte rond te dra (Efesiërs 4:26-27)
· Deur te steel (Efesiërs 4:28)
· Deur bitter te wees (Efesiërs 4:31)
· Deur onvergifnis in ons harte rond te dra (Efesiërs 4:32)
· En deur seksueel losbandig te leef (Efesiërs5:3-5).
WAT GEBEUR AS JY DIE HEILIGE GEES BEDROEF?
Wanneer jy kies om aanhoudend sonde bo die stem van die Heilige Gees in jou lewe te kies, sal jy vind dat sy stem mettertyd al sagter word. Dit is kompleet soos om ’n houer oor ’n oop vuur te plaas. Mettertyd sal dit uitgedoof word. Dit is in daardie tye wat dit baiekeer voel asof jy teen die dak vas bid of net nie ’n deurbraak tot God kan hê nie.
Hoe lyk jou lewe vandag? Het jy die vuur uitgedoof? Staan jy dalk met ’n vurk in jou hand?
Kan ek jou aanmoedig om vandag na God terug te draai? Bêre die vurk, maak oop die vuur en laat die Heilige Gees toe om jou daagliks te lei om meer soos Jesus te word!
Vader God, baie dankie vir u Heilige Gees in my lewe wat my daagliks rig en lei. Vergewe my asseblief dat ek soms u Gees wetend of onwetend bedroef. Lei my van vandag af om meer sensitief te word vir die dinge wat nie in my lewe hoort nie. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Previous article: Vers n dag - 1 Maart Prev Next article: Vers n dag - 24 Februarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.