Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 2 Maart

2.    “Kaptein, span die seile!”

Hennie Symington

Vang jy vis op droë grond?

 

Die meeste van ons hou van die gebaande weë. Ons staan elke dag aan dieselfde kant van die bed op en bewaar jou as jy met die verkeerde voet uit die bed klim. Ons daag klokslag by die werk om ons daaglikse roetine te hervat en laat daar iets uit plek wees, dan is die duiwel behoorlik los.

Kan jy jou dus voorstel hoe Petrus, toe nog Simon, gevoel het toe hy na ʼn harde nag se werk op die meer van Galilea sonder om ʼn enkele vis te vang, moes hoor hoe Jesus, wat ʼn skrynwerker is, vir hom, wat sy lewe lank al visvang, vertel dat hy, wat Petrus is, sy nette aan die ander kant van die boot in die diep water moes ingooi! Enige visserman wat sy sout werd is, sal vir jou vertel ʼn mens vang vis in die aand sodat die vis nie vrot nie, en diep water is nie die plek om te vang nie. ʼn Mens wonder, is dit uit ordentlikheid, of om dalk aan Jesus te bewys dat die skoenmaker hom maar by sy lees moet hou, dat Petrus maak soos Jesus sê? Teen alle verwagting in vang Petrus tonne en tonne vis. Genoeg vir twee of drie bote. Ons lees nie dat Jesus gelag het nie, maar sy goddelike humorsin sou hom verseker nie in die steek gelaat het nie.

Kies koers na nuwe horisonne

Mense vind dit oor die algemeen moeilik om uit hulle vasgestelde baan te beweeg al is hulle hoe verveeld en vervelig. Hierdie is ʼn uitnodiging om op ongekaarte weë te vaar en te ontdek dat God ʼn God vol verrassings is. Vir Petrus, Jakobus en Johannes was dit die laaste keer dat hulle op die ou manier sou visvang. Hulle moes ook anders dink oor wie die “visse” sou wees. Met hierdie baie duidelike illustrasie wil Jesus dalk vir ons sê: Moenie maar net aanneem dinge gaan verander sonder om anders na ʼn situasie te kyk nie. Jy kan bekostig om ʼn slag ʼn vis uit die water te wees want God  se veiligheidsnet is altyd daar om jou te vang.

Gebed vir vandag

Here, ons is so vasgevang in die ou weë, dat ons skrik wanneer U van ons vra om nuut te dink. Daarom kom U van ʼn plek ver buite ons begrip om nuwe asem in ons te blaas. U Woord is elke dag nuut soos die môredou.

Vers ʼn dag:

Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.” Luk. 5:4

Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Matteus 4:19

Is daar iets waaroor jy graag wil gesels of meer wil lees? Stuur gerus ʼn e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Previous article: Vers n dag - 3 Maart Prev Next article: Vers n dag - 1 Maart Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.