Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 3 Maart

3. OM JOUSELF NA WAARDE TE SKAT
Hennie Symington
Hoeveel weeg jy?
In feitlik elke werksituasie vandag word jy as werknemer en ook as werkgewer geweeg. Daar is allerhande geleerde terme soos uitkomsgebaseerde assessering, selfassessering en assessering deur jou gelykevlakkollegas en wat nog alles. En die hemel help jou as jy geweeg en te lig bevind word.
Die meeste van ons beleef hierdie assesserings as ʼn stresvolle oefening in selfondersoek en self-evaluering. Ons wroeg: wat is ek rêrig werd vir my werknemer? Hoe goed is ek rêrig in my werk? Hoe produktief is ek? Wat is my rakleeftyd? Wat dink mense van my? Is my werk veilig? Is ek nog opgewasse wanneer dit by al die nuwe tegnologie kom?
Hoe beoordeel ek myself
Wat doen ʼn swak evaluering aan my selfbeeld? As ek swak presteer by die werk, beteken dit dat ek ook ʼn swak pa of ma, eggenoot of diaken is!
Gelukkig is God glad nie so genadeloos soos ons eweknieë en base by die werk nie. Eerlike selfondersoek het egter niemand al ooit kwaad gedoen nie. As jy gereeld by die huis of by die werk moet hoor hoe selfsugtig, of onbetroubaar of onbedagsaam jy is, is dit dalk raadsaam om daaraan aandag te gee. Niemand is net sleg of net goed nie. Doen jou bes, aanvaar jouself en leef in die lig van God se genade.
Glo jy is iemand
Om jouself na waarde te skat is nie gelyk aan verwaandheid of hoogmoed nie Ons sien om na liggaam en siel omdat ons God se eiendom is en omdat Christus ons die moeite werd geag het om vir ons te sterf. Liefde, insluitende selfliefde en liefde vir ander is die basis van God se plan vir elke gelowige.
Gebed vir vandag
Here, my ego sukkel soms om die “punch” te vat. Help my myself om te onderskei tussen outentieke kritiek en blote foutvindery. Help my om te glo dat ek nie maar so gemaak en gelaatstaan is nie maar dat u voortdurend in my en met my werk. Amen
Vers ‘n dag
Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Rom. 5:8
Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie.
Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 2 Kor. 16 - 17
As jy enige vrae of sake het wat jy graag wil bespreek, stuur gerus ʼn epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
God skryf jou geskiedenis oor in sy hemelse handskrif
Previous article: Vers n dag - 4 Maart Prev Next article: Vers n dag - 2 Maart Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.