Vers n dag - 4 Maart
4. Kantoorpolitiek - n noodsaaklike euwel?
deur Hennie Symington
Speel volgens die reëls
Maak nie saak waar ’n mens werk nie, kantoorpolitiek steek sy kop oral uit, selfs by Christelike organisasies en kerke. Waar daar uiteenlopende denke en benaderings is, kan jy maar weet sal daar kantoorpolitiek wees. Niemand is bo kantoorpolitiek verhewe nie. Die punt is nie om dit te ignoreer nie maar om dit reg te hanteer.
Die Bybel waarsku ons om versigtig soos slange en opreg soos duiwe te wees. (Matt. 10:16). As dit by kantoorpolitiek kom, het jy Salomo se wysheid en Job se geduld nodig om agter die kap van die byl te kom. Al wat jy moet doen, is is om te besluit hoe jy jou posisie gaan verdedig sodat jy die respek van jou kollegas kan verdien en die organisasie waarvoor jy werk ten beste kan dien sonder om jou beginsels te verloën.
Hoe jy die spel speel, tel
Kantoorpolitiek is nie noodwendig negatief nie. Dit kan op ’n etiese en professionele wyse en volgens Bybelse beginsels bedryf word. Gaan steek gerus by Jesus kers op. In Matteus 20:20-21 duik daar ʼn tipiese voorbeeld van kantoorpolitiek op toe Jakobus en Johannes se moeder Jesus vra om haar twee seuns in die twee top posisies in die koninkryk te plaas! Hierdie versoek het niks te make met prestasie of talent nie. Dit was uit en uit ’n aanspraak op spesiale bevoordeling. Jesus sit die broers (en hulle ambisieuse moeder) summier op hulle plek met sy antwoord dat dit nie vir Hom moontlik is om aan so ’n versoek te voldoen nie aangesien die Topbestuur (figuurlik gesproke!) daaroor besluit. ’n Mens kan verstaan dat die ander 10 dissipels verontwaardig was oor Jakobus en Johannes. Jesus roep hulle bymekaar en gee hulle ʼn les in nederigheid.
Gebed vir vandag
Here, dit lyk soms of die werkplek die lelikste kant van mense na vore bring. Help my om nie my Christelike beginsels in te ruil die oomlik as ek by die kantoor instap nie. Gee my die insig om te onderskei tussen kernsake en mense se persoonlike agendas.
Vers ‘n dag
Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees.
Matt. 20: 26 - 27
God skryf jou geskiedenis oor in sy hemelse handskrif