Vers n dag - 5 Maart
5. Gevaarsone!
deur Hennie Symington
Wees gewaarsku!
Die Arbeidswette in die meeste werkplekke dek waarskynlik enige gevaarsituasie waaraan ʼn werker moontlik blootgestel kan word behalwe die slaggate van kantoorpolitiek. Eintlik behoort die volgende waarskuwing by elke werkplek opgesit word:
WEES GEWAARSKU -
WERK KAN SKADELIK
VIR JOU LOOPBAAN WEES!
Elke werkplek het sy eie slaggate en gevaarsones. Klink die volgende bekend: die lekker kuier rondom die watergat saam met die kantoor se riemtelegram, die doemprofete, die verontregtes, die klakouse, die ouens met die verskuilde agendas en natuurlik die baas se oë en die baas se ore. Natuurlik is daar niks mee verkeerd om ʼn bietjie sports te maak by die werk nie. Maar pasop vir naam weggooi met lospraatjies waaroor jy later spyt gaan kry. As jy ’n klagte het, volg die normale kanale om beswaar te maak en moet onder geen omstandighede gerugte of skinderpraatjies versprei nie. Dit plaas jou reputasie op die spel.
Onthou jou veiligheidsdrag
ʼn Christen se werktuie is sy Christelike waardes. En net soos wat jy nie sal droom om met onvanpaste kleredrag by die werk op te daag nie, sou jy nie daarvan droom om jou beginsels by die deur te laat wanneer jy werk toe kom nie. Jou Christelike manier van doen behoort so deel van jou daaglikse roetine te wees soos om jou kospakkie in te pak of of om jou rekenaar aan te skakel. Jy  het die opdrag om jou werkplek ʼn veilige omgewing vir jou so wel as jou kollegas te maak. En die beste manier om dit te doen is om aanspraak te maak op God se beskerming.
Gebed vir vandag
Here, wees met my by die werk wanneer ek sukkel om my beginsels uit te leef. Bewaar my daarvan om ʼn struikelblok vir ander by die werk te wees. Help my om ʼn seën te vir ander te wees met my woorde en dade.
Vers ʼn dag:
Hy is ’n skild vir almal wat by Hom skuil. 2 Sam. 22:31 (1933/53)
Valsheid wil ek van my af weg hou, van kwaad wil ek niks weet nie.
Wie sy naaste beskinder, wil ek uitwis. Ps.101:4 - 5
Vermy 'n dwase mens; jy sal nie by hom leer om verstandig te praat nie. Spr. 14:7
God skryf jou geskiedenis oor in sy hemelse handskrif