Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 12 Maart

3.      Gebed is heilige grond

Hennie Symington

Bid met toewyding

Om oor gebed te praat is nie maklik nie omdat dit so persoonlik is. Tog is daar al soveel oor die moets van gebed geskryf, dat ‘n mens dalk ‘n slag moet kyk na die moenies.

 

Moenie bid as hy nie bereid is om van jou geveinsdheid af te sien nie. Jesus het hom in die skerpste moontlike terme uitgespreek teen die Fariseërs wat heeldag staan en bid terwyl hulle die weduwee uit haar besittings uitdoen.

 

Moenie eens probeer om te bid as daar iets is wat jy eers uit die weg uit moet ruim tussen jou en iemand anders nie. Jesus vertel van die man wat op pad kerk onthou het dat hy iets teen sy broer het. Hy’t net daar omgedraai en eers dinge met sy broer gaan regmaak.

 

Moenie dink dat gebed ʼn manier is om God se gedagtes te verander nie.  Gebed beteken om so te luister dat jy in harmonie sal kom met wat  God  wil in jou lewe. Dis nie maklik nie.

 

Moenie God op hoë bergtoppe of ander heilige plekke gaan soek nie. Jy kan hom net so goed in jou eie omgewing vind. God is net so teenwoordig in die stadsrumoer as wat hy in die stilte is.

Gebed is ...

Gebed is ʼn manier om die teenwoordigheid van God op te roep en jouself daarvoor oop te stel. Dis nie jy wat God gaan verander nie, dis jy wat verander gaan word.

Gebed  vir vandag:

Here, ek het min woorde wanneer dit by gebed kom maar ek weet dat U deel is van my gedagtegang, my opstaan en my gaan slaap. Dankie vir u teenwoordigheid in my lewe.

Vers ʼn dag

“Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.” Luk. 11: 1b

“Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver My af.” Mar. 7:6b

“Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebed op. Hulle sal baie swaar gestraf word.”   Markus 12:40.

Previous article: Vers n dag - 15 Maart Prev Next article: Vers n dag - 11 Maart Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.