Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 16 Mei 2012

Die tweede kans evangelie

Neville Turley

“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” Lukas 22:31-32

Hoe gelukkig moes die Satan nie gewees het toe Simon Petrus drie keer ontken het dat hy Jesus ken voordat hy buitentoe gegaan en bitterlik gehuil het nie. (Lukas 22:56-62).  Eers was dit Judas Iskariot en nou Simon Petrus wat Jesus in die steek gelaat het.

Dit maak nie saak hoe sleg ons is nie, Jesus bied altyd 'n tweede kans aan diegene wat waarlik berou het en Hom om vergifnis vra.

Petrus het so 'n tweede kans beleef.  Hy was saam met Tomas, Natanael, Jakobus en Johannes by die See van Tiberias in Galilea.  Die engel het reeds by die graf vir die vroue gesê om vir die dissipels te gaan sê om na Galilea te gaan want daar sal hulle Jesus sien.  Petrus het besluit om te gaan visvang en die ander het saam met hom gegaan.

Hulle het die hele nag visgevang en teen ligdag het hulle 'n man op die strand gesien. Dit was Jesus maar hulle het Hom nie herken nie. Jesus vra toe vir hulle: “Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?” “Nee,” antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie.

Johannes sê toe vir Petrus: "Dit is die Here." Petrus was baie bly en het in die water gespring en na Jesus toe geswem.  Die ander het met die skuit gekom en die swaar net vol vis gesleep.  Op die strand het Jesus hulle genooi om te kom eet.  Hulle het geweet dat dit die Here is, maar nie een van hulle kon sover kom om Hom te vra wie Hy is nie.  Na ete het Jesus met Petrus gepraat.

Drie keer het Petrus Jesus verloën.  En nou gee Jesus hom 'n tweede kans.  Drie keer vra Jesus vir Petrus: "Het jy My lief?" Drie keer antwoord Petrus dat hy Hom liefhet.

Ons moet egter goed verstaan wat Jesus bedoel het toe Hy vir Petrus gevra het of hy Hom liefhet.  Die Bybel verduidelik dit so mooi, “Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.” (Johannes 14:21)

Het jy my lief? Dit is die grootste en belangrikste vraag wat Jesus aan elkeen wat met Hom praat, vra.  Wanneer Hy met jou praat, wat sal jou antwoord wees?  Indien jy antwoord "Ja Here ek het U lief en sal U gehoorsaam", maak dit nie saak aan watter sondes jy skuldig is nie.  Jy sal, soos Petrus, 'n tweede kans ontvang.  Satan sal ons nooit uit die hande van Jesus kan ruk nie.

Gebed:  Here, ons het U lief. Dankie dat deur Jesus ons 'n tweede kans kry.  Laat u Naam geheilig word. Amen

Previous article: Vers n dag - 17 Mei 2012 Prev Next article: Vers n dag - 15 Mei 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.