Vers n dag - 17 Mei 2012
Op pad huis toe – Deel 1
Neville Turley
Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Handelinge 1:8
Vandag is Hemelvaartdag. Dié dag wat Christene oral die feit dat ons Here Jesus Christus in die hemel opgeneem is, herdenk. Sy sending op aarde was voltooi. Hy was op pad huis toe.
Drie en dertig jaar voor hierdie gebeure het Hy sy plek aan die regterhand van God die Vader verlaat en Homself verneder deur as mens na die aarde te kom. Hy het geweet dat, om dit enigsins vir die mensdom moontlik te maak om hulle met God te versoen, dit vir Hom nodig was om hier met sy lewe te kom boet.
Dit is feitlik onmoontlik om in woorde te beskryf die verskriklike geestelike en fisiese lyding wat Jesus moes verduur van diegene vir wie Hy gekom het om te verlos. Hy is verneder, onregverdig behandel, wreed gestraf en geslaan en het uiteindelik in ondraaglike pyn aan die kruis gesterf.
Nou, op daardie eerste Hemelvaartdag 40 dae na sy opstanding, was Hy uiteindelik op pad huis toe.
Gedurende dié 40 dae het Hy tyd met sy dissipels gespandeer om onder andere deur sy teenwoordigheid hulle te oortuig dat Hy waarlik die dood oorwin het. Hy het ook met hulle oor die koninkryk van God gesels.
Sy afskeidsopdrag aan hulle was “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het …" Die geskenk was dat hulle binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop sou word. Hulle het nie verstaan wat dit beteken nie. Hulle het vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”
Handelinge 1:6.
Die dissipels het onder die juk van die Romeine geleef en hulle kon nie verder dink as dat Israel van die Romeinse onderdrukking bevry moes word nie. Hulle het geen begrip gehad vir wat die koninkryk van God alles behels nie.
Jesus het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. En toe deel Hy die woorde van ons vers vir vandag met hulle, Handelinge 1:8 hierbo.
Alhoewel Jesus nie vir hulle gesê het wanneer Hy terugkom nie, het Hy wel gesê wat hulle moes doen. "… julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Hy Het ook vir hulle gesê dat hulle krag van die Heilige Gees sal ontvang om dit te kan doen.
Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien.
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U u Seun, ons Here Jesus Christus, gestuur het om aan die kruis vir ons te sterf. Dankie dat Hy uit die dood opgestaan het en opgevaar het na die hemel sodat ons die ewige lewe kan hê. Amen