God se goeie nuus: God se woorde is skatte - 11 Junie 2025
Louise Gevers
'Ek gee aan jou skatte in die donker, rykdomme in verborge plekke, sodat jy kan weet dat dit Ek, die Here, is wat jou op jou naam roep, die God van Israel Jesaja 45:3, 2020-vertaling
Selektiewe gehoor is die brein se vermoë om in 'n raserige omgewing op 'n spesifieke klank of spreker te fokus terwyl ander klanke geïgnoreer word. Dit word ten beste geïllustreer wanneer ons bo al die wêreld se geraas na God luister en ten slegste wanneer ons God se stem ignoreer en eerder na iets of iemand anders luister. Sy konstante oproep tot sy volk was, en is steeds: "Luister na my stem en tree op ooreenkomstig alles wat Ek julle beveel. Julle sal dan my volk wees, en Ek sal julle God wees." (Jeremia 11:4b)
Dit is net so nodig om te weet hoe om te luister in ander belangrike verhoudings in ons lewe en ook dat dit die sleutel is tot die versteekte "skatte" wat God openbaar. God volg die opdrag hierbo op met 'n belofte wat sy hart aan ons openbaar: "sodat Ek die eed gestand kan doen wat Ek vir julle voorouers afgelê het – om vir hulle 'n land te gee wat oorloop van melk en heuning, soos dit vandag is." (Jeremia 11:5)
Deur te luister na wat God vir ons sê – en dit te gehoorsaam – bring reeds die beloning dat ons sy stem in ons binneste erken, maar om die belangrikheid van sy stem te verstaan, sal die kluis ontsluit vol "skatte in die donker, rykdomme in verborge plekke" waarna ons teksvers vandag verwys. Daar is niks wat die wêreld ons bied wat die skatte wat God gee kan oortref nie.
Dit was hierdie vers wat aan Katherine Wolf, 'n jong vrou wat vyf keer gedurende 'n 16 uur lange operasie gesterf het, hoop gegee het in die maande daarna. Sy het vasgehou aan God se beloftes – sy het elke skat opgeëis – en so haar lewe herdefinieer.
God het op 'n wonderbaarlike wyse deur die mediese span gewerk wat haar keer op keer weer teruggebring het en sy het oorleef. In die moeisame jare wat gevolg het, het God net so wonderbaarlik sielkundig en geestelik met haar gewerk. Hierdie keer was sy teenwoordig, sy het Bybelverse haar eie gemaak wat haar lewe op die merkwaardigste manier verander het.
Sommige mense mag na die Bybel as vervelig of irrelevant verwys, terwyl hulle dit nog nooit werklik bestudeer, na God se stem geluister, of die skatte in die Woord ontdek het nie. Katherine het, en sy is 'n lewende getuie van hoe God, ongeag baie hindernisse, haar lewe verander en verryk het.
Jesus, as die "ware wingerdstok" (Johannes 15:1, 1983-vertaling) sê dat ons in Hom moet bly en dan beloof Hy dat ons baie vrugte sal dra. (Johannes 15:5) As ons na God luister, sal die Heilige Gees ons help om pragtige vrugte in ons lewe te dra – skatte wat openbaar word in "liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing." (Galasiërs 5:22-23a) en ons sal in God se liefde en genade floreer.
God se woorde gee lewe aan dié mens met 'n oor wat hoor en met 'n hart wat op die lewenspad in ritme met sy hart klop.
Gebed: Genadige Vader, gee aan my 'n oor wat u stem hoor waar ek ook al mag wees en 'n hart wat altyd na die skatte in u Woord soek. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen