Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 21 Mei 2012

Ken jou vyand

Neville Turley

Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. Efesiërs 6:11-12

Toe wyle Hansie Cronje, kaptein van die Suid-Afrikaanse krieketspan, betrokke was by die groot skandaal oor wedstrydknoeiery het hy sy aandeel daaraan beken. Baie mense het hom uitgelag en bespot oor sy verskoning dat die duiwel hom dit laat doen het.

Hoe gelukkig moes die reaksie van die mense Satan nie gemaak het nie. Hoe meer daar gespot word met diegene wat glo dat Satan bestaan en aktief besig is in die lewens van mense, hoe beter vir hom. Hy kan voortgaan met sy goddelose aktiwiteite om mense in versoeking te lei om teen God te rebelleer.

Die Bybel openbaar hom as die grootste vyand van God en mens.  In Efesiërs 2:2 word daar na hom verwys as die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

Dit is 'n fout om sy bestaan te ignoreer en 'n selfs groter fout om die impak en invloed te onderskat wat hy op die lewens van diegene wat jy liefhet, kan hê.

Jesus was goed voorberei vir sy ontmoeting met Satan (Matteus 4:1-11).  Dit was net na sy doop toe die Heilige Gees Jesus die woestyn ingelei het waar Hy vir 40 dae en nagte gevas het.

Daar het die duiwel die honger Jesus versoek om die klippe in brood te verander, en hy het selfs al die koninkryke van die wêreld vir Hom aangebied as Hy "neerval en my aanbid." Die Bybel vertel ons dat nadat Jesus die duiwel verwerp het, het die engele gekom en Hom versorg.

Satan kom dikwels met sy versoekings na ons in die tye wat ons weerstand op sy laagste is. Hy kan ons emosioneel teister en mishandel, maar ons kan weerstand bied want ons vyand, Satan, is reeds verslaan.  Sy krag en heerskappy oor gelowiges is reeds aan die kruis verbreek. (Johannes 12:31)

Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. (Jakobus 4:7)

Gebed: Almagtige God, ons dank U dat deur die offer wat Jesus gebring het, ons die duiwel en sy versoekings kan weersstaan. Ons bid dat U ons geloof sal versterk. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen

Previous article: Vers n dag - 22 Mei 2012 Prev Next article: Vers n dag - 18 Mei 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.