Vers n dag - 22 Mei 2012
God laat alles ten goede meewerk
Neville Turley
Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Romeine 8:28
Die lewe is nie altyd maklik nie. Soms gebeur dinge wat seermaak of ons laat swaarkry. 'n Ernstige ongeluk, siekte, afdankings, emosionele verraad – alles slegte goed wat gereeld met mense gebeur.
In sulke tye is dit normaal om God te vra: "Waarom Here, waarom gebeur dit met my?"
Josef het seker ook hierdie vraag gevra. Hy is deur sy broers afgeknou, hulle het sy kleed gevat, hom in die put gegooi, hy is as 'n slaaf aan Potifar, die hoof van die koning se lyfwag, verkoop. Waar was God in dit alles? (Genesis 37:23-28)
Josef het goed gevaar in diens van sy eienaar, maar sy probleme was nog lank nie oor nie. Alhoewel hy heeltemal onskuldig was, is hy vals beskuldig dat hy probeer het om Potifar se vrou te verkrag en hy is in die gevangenis gegooi.
Dit was eers jare later dat Josef besef het dat God die kwaad wat hom aangedoen is, ten goede laat meewerk het sodat die lewens van baie mense gered kon word. (Genesis 50:20)
Josef, Moses, Jesaja, Esegiël, almal voorbeelde in die Bybel van mense wat baie swaargekry het, maar waar die Here ter wille van sy doel hierdie swaarkry ten goede laat meewerk het.
Hy werk ook in ons lewens want Hy het 'n wonderlike plan en doel met elkeen van ons. Soms kan ons egter glad nie dit wat met ons gebeur verstaan nie of hoekom dit gebeur nie.
Dan is dit juis nodig dat ons meer as ooit op Hom moet vertrou, met die volle wete dat sy liefde en krag ons sal dra totdat ons uiteindelik in sy heerlikheid sal deel.
Gebed: Almagtige Vader, so dikwels bevind ons ons in omstandighede buite ons beheer en is ons bekommerd en vol stres. Skenk aan ons die wete dat ons lewe vandag en in die toekoms veilig in in u hand is. In die Naam van Jesus bid ons dit. Amen