Vers n dag - 23 Mei 2012
Verkondig die evangelie
Neville Turley
Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”Romeine 10:15
Filippus was een van die sewe diakens wat die Apostels ingestel het. (Handelinge 6:5-6) Filippus het Christus in Samaria verkondig waar hy 'n groot impak gemaak het en groot blydskap gebring het. (Handelinge 8:6-8)
'n Engel het vir Filippus gesê om uit te gaan op die woestynpad tussen Jerusalem en Gasa waar hy die man wat die geldsake van die Koningin van Ethiopië hanteer, op sy wa sou sien sit.
Filippus was gehoorsaam en het so gedoen. Die Bybel skets 'n wonderlike prentjie van Filippus wat langs die wa hardloop en gehoor het dat die Ethiopiër besig was om uit Jesaja te lees. “Soos 'n skaap is Hy gelei om geslag te word; en soos 'n lam wat stil is as hy geskeer word, het Hy nie sy mond oopgemaak nie. In sy vernedering het daar nie reg aan Hom geskied nie. Wie sal van sy nageslag kan vertel? Sy lewe op aarde word beëindig.” Handelinge 8:32-33)
“Verstaan u wat u lees?” vra Filippus “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?” het die amptenaar geantwoord.
Hy het toe vir Filippus genooi om op te klim wat Filippus toe gedoen het. Filippus het toe begin om die goeie nuus van Jesus vir hom te verduidelik. Onderweg kom hulle toe by water aan, en die amptenaar het gevra om gedoop te word. Nadat Filippus hom gedoop het, het hulle paaie geskei en hulle het mekaar heel warskynlik nooit weer ontmoet nie. Die Gees van die Here het Filippus weggeneem en die amptenaar het verder gereis gevul met blydskap.
Twee mense, gelei deur die Heilige Gees, deel die evangelie van Jesus Christus. Die een verduidelik die weg en die ander een aanvaar die boodskap en gee sy lewe aan die Here oor.
Hierdie scenario het hom deur die eeue ontelbare kere herhaal. Dit gebeur wanneer gelowiges, soos ek en jy, die goeie nuus van Jesus Christus met ander deel. Deur dit te doen verheerlik ons die Een wat sy lewe vir ons gegee het.
Gebed: Hemelse Vader, gee dat ons deur die Heilige Gees u boodskappers sal wees en dat ons deur ons woorde en dade die goeie nuus van die evangelie met ander sal deel. Amen.