Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vrug van die Gees: liefde

Ben Fourie
 
Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Galasiërs 5:22-23a, 2020-vertaling
 
Die vrugte wat ek deesdae in die supermark koop, smaak nie meer so lekker soos die wat ons sommer self op my oom se erf by Boegoeberg gepluk het nie. Sappige taaipit Kakamas perskes, sultana druiwe wat eintlik jou keel gebrand het van soetigheid, groot suikersoet waatlemoene en nog baie ander.
 
Vrug van die Gees is vir my 'n pragtige beeld wat die Bybel gebruik om belangrike dinge soos liefde, blydskap en vrede te beskryf. God se Gees werk dus in my lewe sodat ek geurige soet Boegoeberg vrugte aan my lewensboom kan dra. Die teks praat nie eintlik van vrugte nie, maar net vrug in die enkelvoud, want al hierdie dinge vorm saam een geheel.
 
Ek kan byvoorbeeld nie die vrug van vrede in my lewe hê, maar nie vriendelik wees nie. Daar is ook nie sprake van selfbeheersing sonder geduld nie. 'n Mens kan nie vir die toets vyf uit nege kry nie. Dit is nege uit nege of anders kry jy 'n nul.
 
Die eienskap wat almal saambind, is die heel eerste een wat in ons teksvers genoem word – liefde. Dit is soos die skil van 'n vrug wat die hele vrug bymekaar hou. Sonder liefde sal nie een van die ander tot volle wasdom kom nie. Om oor almal iets te sê sal te veel tyd in beslag neem, so kom ons kyk na enkeles as voorbeeld en vra onsself af of dit in ons lewens sigbaar is.
 
Kan mense blydskap op my gesig lees? Ervaar mense by my werk of langs die sportveld my as vriendelik? Sien kollegas, my kinders of lewensmaat my in 'n konflik situasie volledig in beheer van myself? Wat van geduld? Laasgenoemde moet ek bely is die een waarmee ek byvoorbeeld persoonlik baie sukkel.
 
As die dinge nie in 'n mens se lewe sigbaar is nie, is daar maar skraal kans dat liefde sigbaar sal wees.
 
Gebed: Ons dank U dat U die plek goed voorberei het sodat my lewensboom sterk kan groei en geurige vrug kan dra tot genieting van my medemens. Amen
 
Previous article: Liefde is nie suinig nie - 24 Julie 2025 Prev Next article: Liefde vra volharding - 22 Julie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.