Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Liefde is nie suinig nie - 24 Julie 2025

Ben Fourie
 
Toe het Maria 'n litra¹ egte, uiters kosbare nardusolie geneem, die voete van Jesus gesalf en met haar hare afgedroog. ¹(ongeveer 350 ml) Johannes 12:3, 2020-vertaling
 
Wie van ons het soveel geld dat ons amper 'n jaar se salaris op een slag kan uitgee en dit op 'n bottel reukolie? Judas skat die waarde van die fles nardusolie op 300 Romeinse denarii. Een denarius was ongeveer die dagloon van 'n gewone werker. 'n Klomp geld inderdaad, maar Maria gee nie om nie. Sy gee immers nie die geld op 'n bottel reukolie uit nie, sy gee dit op Jesus uit wanneer sy volgens Johannes sy voete salf.
 
Hoekom doen sy dit? Ons weet so 'n paar dinge van Maria, maar ongelukkig nie baie nie. Sy was 'n suster van Lasarus en Martha, sy het aan die voete van Jesus gesit en luister na sy boodskap, sy was by toe Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het, maar verder weet ons eintlik niks van haar nie, behalwe dat sy Jesus baie liefgehad het. Die Bybel sê dit nie in soveel woorde nie, maar 'n mens kan duidelik sien dat dit so was. Wie gee sommer 'n jaar se salaris weg aan iemand vir wie jy nie lief is nie? Maria se liefde vir Jesus was nie suinig nie.
 
Waar kom hierdie liefde vir Jesus dan vandaan? Die antwoord is in Johannes 11:5: “Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad.” Jesus het ons eerste lief en sy liefde vir ons ken geen perke nie. Hy is beslis nie suinig daarmee nie, inteendeel, aan die kruis gee Jesus vir ons sy heel kosbaarste besitting, sy eie lewe.
 
Hoe vrygewig is ek van my kant af met my liefde vir Jesus en ook vir my medemens? Deel ek dit in sulke klein suinige bietjies uit, of leef ek elke dag 'n lewe vol liefde vir Hom en almal rondom my?
 
Gebed: Ons vra verskoning dat ons so dikwels dinge wat ons as baie belangrik ag in die pad laat staan van 'n liefdevolle verhouding met U. Ons gebed is dat U ons sal help om meer soos Maria te wees en minder ingestel op wêreldse goed. Amen

 

Previous article: Het jy my lief? - 25 Julie 2025 Prev Next article: Vrug van die Gees: liefde Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.