Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Goed toegerus - 19 Augustus 2025

Ben Fourie
 
En Hy het sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou … Efesiërs 4:11-12, 2020-vertaling
 
Toe ek my eerste huis gekoop het, het my swaer vir my die gesegde voorgehou wat sê dat daar drie belangrike dinge is wat 'n mens in ag moet neem en dit is ligging, ligging en nogmaals ligging. So is daar ook vir ons as gelowiges drie kernwaarhede as ons in die wêreld wil besig wees met die opbou van die kerk as liggaam van Christus, en dit is toegerus wees, toegerus wees en nogmaals toegerus wees..
 
'n Mens dink onwillekeurig terug aan gister se dagstukkie waar ons van huisbou gepraat het. Soos wat 'n mens 'n huis bou, moet ook die kerk of liggaam van Christus vanaf die fondament tot by die dak opgebou word. Die bouers is ons almal wat bely dat ons in Christus glo. Met kerk moet ons natuurlik nie 'n spesifieke kerkgenootskap verstaan nie, maar die liggaam van Christus soos dit sigbaar word oral waar die wat in Hom glo in die wêreld betrokke is.
 
Hier in die woonbuurt waar ons bly, is daar 'n paar huise waaraan daar gebou word. Ek en my vrou staan dikwels tydens ons oggendwandeling oopmond van verbasing en kyk na hoe goed toegerus en vaardig die vakmanne is wat met die bouery besig is. Ook die aanwending van baie moderne tegnologie is verstommend.
 
Paulus verduidelik in Efesiërs 4:12-13 aan ons as gelowiges hoe noodsaaklik dit is dat elke gelowige goed toegerus en vaardig moet wees in geloof en kennis sodat die kerk kan groei tot " 'n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus”. Bouwerk aan die kerk is nie so eenvoudig nie. 'n Mens moet weet wat jy doen. Om die kundigheid te bereik moet ons almal 'n vakleerlingskap deurloop en daarvoor het Christus vir ons vakmanne soos profete, evangeliste, herders en leraars gegee by wie ons kan leer hoe om die liggaam van Christus op te bou.
 
Meer nog. Ons het 'n wonderlike handleiding waaruit ons kan leer bou. In God se Woord is daar pragtige riglyne, maar dit vra toegewyde studie. Bo alles gee Hy vir ons 'n Meesterbouer om ons op te lei.
 
Gebed: Ons bid dat U ons elke dag meer insig in u Woord sal gee sodat ons kan groei tot volwasse gelowiges. Amen
Previous article: Die Heilige Gees word vir ons gegee as Leermeester - 20 Augustus 2025 Prev Next article: Die volle inhoud van die boodskap - 18 Augustus 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.