Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 17 Maart

6.       Gebed in ‘n geestelike niemandsland

Hennie Symington

Sielstilstand

Daar kom ‘n tyd in elkeen van ons se lewens wanneer jy jou in die niemandsland van die geloof bevind. Dit is die tye wanneer dit voel asof daar niks is wat jou kan red uit die verlatenheid van ‘n gevoel dat daar ‘n onoorbrugbare afstand  bestaan tussen jou en die veilige sekerheid van ‘n God wat hoor, ‘n God wat sien en ‘n God wat antwoord.

Dit is ‘n tyd van die groot stilte. Dis nie net God wat jou nie antwoord nie, maar jyself ervaar ‘n onvermoë om jou tot God te rig in gebed.  Dis nie asof jy ontken dat God daar is nie, jy het dit net nie in jou om na Hom te roep nie.

Wag wagtend

Wanneer dit gebeur is dit ‘n tyd om laag te lê. Dit is nie die tyd om wilde uitsprake te maak oor ‘n God wat nie daar is nie, of ‘n God wat nie omgee nie. Dit is die tyd om te wag met verwagting dat God sal antwoord soos wat Hy in die verlede geantwoord het.

 

Miskien is dit die tyd om die galery van moedeloses te besoek en te kyk na die lang ry van gelowiges wat gevoel het God is nie meer daar nie: Elia onder die besembos, Job op die ashoop, Dawid in die spelonke op vlug, Jesus wat uitroep aan die kruis: “God waarom het U my verlaat?”

 

Hierdie stilte voor God is dikwels die teelaarde vir ‘n groter begrip van die diepte van jou bestaan en die hoogtes van God se genade. Jy sal weer die sagte ruising van God se stem in jou lewe hoor. Jy sal weer die versekering hê dat God jou nie vergeet het nie. Jy sal saam met Christus die opstanding tot ‘n nuwe lewe  ervaar.

Gebed vir vandag

Here, wanneer dit winter in my lewe is, stuur U ‘n duif op my pad om my aan u teenwoordigheid te herinner

 

Vers ’n dag

Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag.  Ek wil nie sterwe, ander se my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my ondergang.   Psalm 13:4-5

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.  Psalm 22:2-3

Wie kan ons van die liefde van Christus skei? In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet. Rom. 8:35a, 37

Previous article: Vers n dag - 18 Maart Prev Next article: Vers n dag - 16 Maart Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.