Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 30 Mei 2012

Aan die brand vir die Here

Neville Turley

Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Handelinge 2:2-3

Vervul met die Heilige Gees was die apostels "nuwe" mense. Bekragtig met spesiale gawes om hulle vir hulle bediening toe te rus, het hulle begin om wyd te preek en wonderwerke te doen  Duisende mense het tot bekering gekom.

Die hoëpriester, sy volgelinge en die Sadduseërs het die leringe van Jesus heeltemal verwerp.  Ten spyte van dreigemente, arrestasies, hofsake en lyfstraf kon hulle egter nie daarin slaag om die apostels te laat ophou om in die Naam van Jesus te preek nie.

Ten spyte van geweldige teenkanting het die vroeë kerk wyd versprei en veld gewen. (Handelinge12:22-23)  In hierdie tyd het Herodes Agrippa 1 koning geword van Palestina.  Hy was die eerste koning wat begin het om die Christelike kerk te vervolg. Dié koning het Jakobus om die lewe laat bring en Petrus in hegtenis laat neem.

Petrus was in die gevangenis met kettings geboei en onder swaar bewaking toe 'n engel wonderbaarlik tot sy redding gekom en hom gehelp het om te ontsnap. Herodes was woedend en het die wagte laat doodmaak. (Handelinge 12:18)

Herodes het toe besoek ontvang van die mense van Tirus en Sidon vir wie hy baie kwaad was. Hulle wou hom tot bedaring bring want hulle was afhanklik van hom vir hulle lewensmiddele. Hy het ingestem om hulle te spreek.  Op die bepaalde dag het Herodes sy ampsklere aangetrek, op sy troon gaan sit en hulle toegespreek. Die mense het hom geprys en geskreeu: “Dit is 'n god wat praat, nie 'n mens nie!”

Die Bybel vertel ons dat 'n engel van die Here Herodes getref het, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Herodes is deur wurms verteer, en het gesterwe. (Handelinge 12:22-23)

In net die volgende versie in die Bybel lees ons: "Maar die woord van God het verder versprei en veld gewen." (Handelinge 12:24).

Ten spyte van voortdurende teenkanting, versprei die woord van God vandag steeds.  Na raming is daar 2 325 507 000 Christene in die wêreld en dit neem steeds toe! (Verslag: Johnson, Barrett and Crossing - www.globalchristianity.org )  Aan God al die eer!

Gebed: Almagtige God, gee dat ons ook aan die brand vir U sal wees en die evangelie sal versprei. Tot eer van u Naam.  Amen

Previous article: Vers n dag - 31 Mei 2012 Prev Next article: Vers n dag - 29 Mei 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.