Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 31 Mei 2012

Ons Here Jesus kom gou

Neville Turley

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Romeine 15:13

Sedert Jesus se hemelvaart sien Christene met verwagting uit na sy wederkoms.  Sommige Christene word ongelukkig van tyd tot tyd mislei deur mense wat die datum van Jesus se wederkoms voorspel.

Daar was al gevalle waar vals profete en mense wat hulle geglo het, vergader om hierdie dag met groot verwagting af te wag – en dan word hulle hoop en verwagtinge verydel wanneer Jesus nie op die dag wat voorspel is, kom nie.

Jesus kom weer. Sy belofte is seker. "En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is." (Johannes 14:3) Diegene wat egter sê dat hulle weet wanneer Hy weer gaan kom en 'n datum voorspel, is verkeerd want Jesus self het gesê: "Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie." (Handelinge 1:7)

In ons vers vir vandag word God beskryf as "die bron van hoop". Hierdie beskrywing van God kom nêrens anders in die Bybel voor nie.  Hoop, is ook saam met geloof en liefde een van die drie permanente genadegawes waarmee Christene geseën word.

(1 Korintiërs 13:13)

God het die hemel en die aarde geskep en toe het Hy gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. (Genesis 1: 31)  Toe sonde die wêreld binnegekom het, het dinge het egter vreeslik verkeerd begin loop.  Sedert daardie tyd is ons gevalle skepping in totale wanorde.

Christene is nie immuun teen dit wat rondom ons gebeur nie.  Soms is ons eie lewens 'n deurmekaarspul, veral wanneer ons drome en hoop verydel word. Soms word ons hoop bewaarheid, maar soms word ons diep teleurgestel en verval ons in depressie. Ons moet egter nie moed verloor nie. God is die bron van al ons hoop.

Dit het Christus sy lewe aan die kruis gekos om ons uit 'n hopelose situasie te verlos en ons kan met blydskap en vreugde seker weet dat Hy weer kom.

Die laaste woorde wat Jesus in die Bybel sê is: “Ja, Ek kom gou!” Ons kan saam met alle Christene sedert sy hemelvaart in hoopvolle verwagting daarop antwoord: "Amen! Kom, Here Jesus!"

Gebed: Almagtige God, U is die God van hoop, die bron van al ons hoop. Ons staan op u beloftes. Gee aan ons die krag sodat alles wat ons doen tot u eer sal wees. In die Naam van Hom wat weer kom, bid ons dit. Amen.

Previous article: Vers n dag - 1 Junie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 30 Mei 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.