Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lesse van ma-wees 2: Watter boompies gee jy water? - 14 Oktober 2025

Charlea Grey 

“Ek is jou God die Here. Ek het jou uit Egipte gebring, uit die plek waar jy 'n slaaf was. “Jy mag nie ander gode aanbid nie. Ek is die enigste God. Eksodus 20:2-3, Bybel vir almal
 
Die lewe kan soms baie vol en oorweldigend raak. Vir ons elkeen lyk daardie “vol” en “oorweldigend” anders.
 
Party mense het die vermoë om met baie hooi op hul vurk te floreer. Ander kan gewoon net nie soveel aanpak nie.
 
Party mense het hulp in die vorm van skoonmakers, kinderoppassers, oupas en oumas wat kan help met kinders rondry of skooldinge. Ander mense maak kinders groot sonder 'n ondersteuningstelsel en doen alles alleen. Sommige van ons werk voldag en ry lang ente werk toe, ander kan tuis werk. Party van ons het meer as een werk om die somme te laat klop of om ander drome waar te maak. Dan moet ons nog probeer om gereelde oefening ook in te pas en moenie van jou huwelik vergeet nie.
 
Ons het almal verskillende verantwoordelikhede – dalk ook 'n bejaarde ouer of ander familie na wie jy finansieel moet omsien. Dan is daar vriende en familie wat aandag verg, verhoudings wat aandag moet kry.
 
Dinge kan nogal baie raak, nie waar nie?
 
Maak nie saak hoe vol en oorweldigend jou lewe is nie, daar is 'n vraag wat jy jouself dalk gereeld moet vra. Watter boompies gee ek water?
 
Ek het vanjaar in 'n stadium besef dat ek sukkel om by al die boompies uit te kom. Ek sukkel steeds. Daar is gewoon net te veel. Ek moet óf my tyd nóg beter probeer bestuur, of ek moet minder boompies hê. Maar jy sal dalk met my saamstem, dit is helaas makliker gesê as gedaan.
 
Een ding wat ek wel oor en oor besef, is dat daar een boom is wat gedurig water nodig het: My verhouding met die Here. Ek is baie skuldig want dit is baie dikwels die een boompie wat ek maklik afskeep. Dan is my verskoning gebrek aan tyd, moegheid, ander dinge wat eerder moet gebeur. Dan skeep ek my stiltetyd af, ek rammel my gebede af of gaan gewoon nie gereeld genoeg kerk toe nie.
 
Ek is eerlik hieroor, want dit is waar.
 
En die ironie? Dís die een boom wat die grootste en sterkste moet wees. Dis die een boom wat werklik vir my skadu en rus kan bied wanneer ek probeer om al die ander bome te versorg.
 
Gaan dink bietjie vandag, watter boompies gee jy water? En gee jy vir die regte boompies genoeg?
 
Gebed: Baie dankie Here dat U altyd daar is vir my. Help my om my verhouding met U opnuut te prioritiseer. Amen.
 
Previous article: Lesse van ma-wees 2: Jy is nooit alleen nie - 15 Oktober 2025 Prev Next article: Lesse van ma-wees 2: Niemand se lewe is perfek nie - 13 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.