Lesse van ma-wees 2: Jy is nooit alleen nie - 15 Oktober 2025
Charlea Grey
Maar as iemand lief is vir My en as hy gehoorsaam is aan My, dan sal Ek goed wees vir hom en vir sy kinders, 1 000 geslagte lank. Eksodus 20:6, Bybel vir almal
Ma-wees is wonderlik. Dit is baie meer uitdagend as wat ek gedink het dit gaan wees. Dit is uitputtend. Jy leer nie net oor die lewe nie, jy leer oor jouself en verhoudinge. Ma-wees kan ook met tye eensaam wees. Wanneer ek my oor my dogtertjie en al die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan bekommer, voel ek met tye ook alleen. En dis nie omdat haar pa nie sy kant bring nie. O nee, hy is 'n wonderlike, betrokke pa.
Die eensaamheid spruit uit die feit dat ek baiekeer in my kop wonder en wroeg, lysies maak van dinge wat ek moet doen en onthou en daardie verantwoordelikheid vir sommige dinge vir myself hou.
Ek het al geleer dis okay om vir hulp te vra. En 'n mens moet! Maar partykeer is daar dinge waarmee ander jou nie noodwendig gaan kan help nie. Soms is die dinge waaroor jy jou bekommer gewoon dinge wat jy moet aanpak en afhandel.
Tog, as jy God se kind is, is jy nie alleen nie. Nooit nie.
Ek het dit opnuut besef toe ek weer een nag in die vroeë oggendure wakkerlê en my kop op hol gaan oor al die dinge waarby ek moet uitkom voor my kraamverlof kan begin. Hordes dinge het deur my kop gemaal en maak nie saak hoeveel keer ek deur die lys probeer gaan het nie, ek kon myself nie gerusstel nie. Ek het bang, eensaam en oorweldig gevoel.
Toe bid ek. Ek het gewoon vir God gevra om my rustig te maak, my hand te vat en die volgende week of twee saam met my aan te pak. Ek het erken dat ek dit nie alleen gaan kan doen nie. Ek het nog 'n rukkie wakker gelê, maar eindelik aan die slaap geraak.
My punt? Doodeenvoudig. Wanneer jy voel of jy alleen is, draai na God. Hy was nooit weg nie. Hy is daar en wag net vir jou om dit te besef.
Gebed: Liewe Here, vat my hand en stap saam met my. Help my om te onthou dat U altyd daar is vir my en dat U altyd goed is vir my. Amen.