Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 1 Junie 2012

Jou 24/7 Metgesel

Carina Francke

Teksvers: Joh 14:16,17

Alleenheid is vir die meeste van ons 'n groot bedreiging en uitdaging.  Miskien omdat ons dan gekonfronteer word met stilte en op dié manier gedwing  word om in ons eie geselskap deur te bring - hopelik om ons gedagtes te orden.

En tog is alleenheid 'n persepsie wat dikwels  bestaan in die afwesigheid van 'n fisiese en sigbare teenwoordige persoon.  In Johannes 14:16-17 belowe Jesus sy dissipels dat Hy hulle nie alleen sal los nie: "Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak (Helper) stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle en in julle sal wees."

Wat 'n duiselingwekkende wete: die gelowige wat die Here liefhet, het 'n 24/7 metgesel by hom! Die derde persoon in die Godheid, die Heilige Gees, is permanent inwonend by ons!

Weliswaar onsigbaar, maar meer teenwoordig as iemand aan wie jy fisies kan raak.

Wat beteken dit vir jou en my? In die eerste plek dat ons nooit enige situasie alleen hoef te hanteer nie,  of te voel dat ons van God en mens verlate is wanneer dinge skeefloop nie. Die Heilige Gees woon in jou en wil en sal jou ondersteun.....Hy weet tog immers waar jou vermoëns ophou. Leer net luister!

Tweedens impliseer dit 'n baie intieme band tussen die gelowige en die Heilige Gees. In die antieke samelewing was die skeiding tussen ryk en arm baie groot - die rykes het die politiek en reg beheer, en so kon onreg maklik teenoor die arme gepleeg word. As teenvoeter is iemand uit die hoër klas toegewys aan 'n arme om hom te leer wat van hom verwag word. So iemand is 'n parakleet (iemand langs jou) genoem. Besef jy dat ons Parakleet die Heilige Gees sélf is?  Hy weet wat jy nodig het en wíl jou leer en jou help onderskei tussen reg en verkeerd.

Maar daar's nog iets: ons kan die Heilige Gees ken.  Hy leer ons 24/7 wat waarheid is ..........as ons Hóm toelaat om ons te leer en aan alles te herinner wat Jesus op aarde kom leer het.

Ja, jy gaan nie noodwendig onmiddellik antwoorde en oplossings vir jou probleme en vrae hê nie, maar jy hoef dit nie alleen te beleef nie.  Die Heilige Gees is by jou.....en in jou! En dít opsigself versterk jou en gee jou hoop op 'n beter môre.

Gebed: Hemelse Vader, ek dank U dat ek nooit alleen is nie, maar dat U in U liefde die Heilige Gees gestuur het om altyd by my te wees.  Ek weier dat alleenheid of eensaamheid die vreugde wat die Heilige Gees se teenwoordigheid in my lewe bring, kom roof. 

Previous article: Vers n dag - 4 Junie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 31 Mei 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.