Vers n dag - 4 Junie 2012
Jou 24/7 Metgesel
Teksvers: Lukas 24:49
Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, verskyn Hy aan sy dissipels vir wie Hy tot op daardie oomblik nog dood was. G'n wonder nie dat hulle dink Hy is 'n gees toe Hy hulle groet met: "Vrede vir julle!" nie! Dit is eers toe Hy sy hande en voete vir hulle wys en boonop iets vra om te eet, dat hulle weet: Jesus leef (weer)!
Met die wete dat Hy binnekort gaan terugkeer na sy Vader en dat sy dissipels daarna alleen gaan wees, bevestig Hy die belofte wat Hy voor Sy dood aan hulle gemaak het, naamlik dat Hy die Heilige Gees na hulle sal stuur:"En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle." Die keer voeg hy egter by: "Maar gaan bly in die stad Jerusalem totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte." (Luk 24:49)
Wat Hy hier belowe is dat die 24/7 Metgesel wat, soos ons gister gesien het, in en by ons bly, ons ook bekragtig.
Maar eers verduidelik Hy vir hulle die betekenis van sy dood en opstanding, want om die boodskap aan ander oor te vertel, moet hulle verstaan dat God se doel en plan deur Jesus gerealiseer is, maar dat Hy hierdie plan déúr hulle aan alle mense bekend wil maak. En daarvoor sou hulle bonatuurlik toegerus moet word.
Ek en jy kan nie die vrede waarmee Hy hulle gegroet het in hierdie stukkende en deurmekaar wêreld beleef as die Heilige Gees ons nie krag gee nie. Laat staan nog vir ander daarvan vertel! Net soos die dissipels vrees ons ook dikwels, twyfel ons aan sy woorde en beloftes, sukkel ons om in Hom te glo en verstaan en sien ons nie die voorhandliggende raak nie. Ons het daagliks nodig dat Hy ons oë oopmaak vir herkenning en vir die verstaan wie Hy werklik is.
Daarom is ons "bly totdat ons met krag aangedoen is" nie 'n eenmalige gebeurtenis nie, maar 'n voortdurende afhanklikheid van Hom om ons in elke omstandigheid met krag aan te doen. In praktyk beteken dit dat ek en jy in 'n aktiewe, lewende verhouding met Hom moet staan en nie meer op ons eie (onvolmaakte) vermoëns en (gebrekkige) insigte sal staatmaak nie. Sy krag is immers van bo en ken geen perke nie.
Gebed: Vader, dankie dat ek nie alleen my lewe hoef te lei of alleen dinge hoef aan te pak nie, maar dat U die Heilige Gees gestuur het om my te bekragtig om tot U eer te leef en om ander op effektiewe manier van U te vertel. Weerhou my daarvan om enigiets in my eie krag te probeer doen. Amen.