Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 5 Junie 2012

Jou 24/7 Metgesel

Teksvers: Joh 14:26

Ons gesels die afgelope paar dae al oor die Heilige Gees wat 24/7 ons lewenspad saam met  ons loop. Nee, meer as dit: Hy leef ook in ons.  Dat Hy ons "weeskind-skap" kom beëindig het na Jesus se hemelvaart, weet ons reeds, maar wat dóén die Heilige Gees  in ons lewens?

Ons het reeds gesien dat die Heilige Gees die rol vervul van die antieke kultuurgebruik om iemand van hoër gesag langs jou te hê om jou te  ondersteun, te leer hoe om op te tree en om selfs in hofsake vir jou in te staan. So iemand het as parakleet bekend gestaan. Dit dui op 'n trooster, intersessor, helper, advokaat, raadgewer.

In ons teksvers word die rol van  raadgewer uitgelig: "Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het." Joh 14:26

Let mooi op die sinspeling van die tweede gedeelte van die skrifgedeelte: net dit wat Jesus vir hulle gesê het, met ander die woorde wat hulle gehoor het (in ons geval wat ons in die Bybel gelees het) sal die Heilige Gees ons aan herinner. As ons  dus nie die Woord gereeld lees en so 'hoor' watter waarhede Jesus wou beklemtoon nie, is daar niks waaraan die Heilige Gees ons kan herinner nie. Hy gaan diep die 'gehoorde' of 'geleesde',  maar soms vergete inligting uit ons geheuelaaie op en maak dit oop in die bewussynsgedeelte van ons gedagtes sodat ons dit kan onthou.  'n Voorbeeld hiervan is Jesus se dissipels wat eers na Sy dood onthou het wat Hy werklik bedoel het met die tempel wat afgebreek en in drie dae opgebou sal word: dit was die tempel van sy liggaam (Joh 2:22,23).

Dis dán wanneer ons  daaruit kan leer.  In bogenoemde voorbeeld was hulle les dat hulle die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het." (Joh 2:23). Die probleem is net dat ons nie altyd insig en wysheid het om die volle betekenis van hierdie onthoude inligting te verstaan en toe te pas in ons lewens nie. En dít is waar die Heilige Gees tot ons hulp kom.

Hy versterk en maak ons geloof in die Here en sy Woord vas, Hy leer ons om ons nuutgevonde kennis in dade te omskep en om te leef soos Hy wil hê ons moet leef. Maar meer nog, Hy leer en lei ons in die volle waarheid en nie in verdraaide, selfgeïnter- preteerde opvattings nie. Hy is voorwaar die 24/7 Parakleet - die een wat geroep is langs ons om  ons te help.

Gebed: Vader, baie dankie dat ek nooit raadop of sonder hoop te wees nie, want die Heilige Gees ken my omstandighede en probleme, asook die oplossings daarvoor beter as ek. Amen

Previous article: Vers n dag - 6 Junie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 4 Junie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.