Vers n dag - 6 Junie 2012
Jou 24/7 Metgesel
Teksvers: Joh 14:16,18
Ons het onlangs die dood, opstanding en hemelvaart van Jesus gevier, maar Sy betrokkenheid by ons lewens stop nie hier nie. Sy belofte aan sy dissipels dat Hy hulle "nie as wese sal agterlaat nie, maar Ek kom weer na julle toe" (v18) word duideliker in Sy woorde: "Ek sal die Vader bid, en Hy sal vir julle 'n ander Trooster/Raadgewer (die Heilige Gees) gee om by julle te bly tot in ewigheid." Hierdie belofte is ook van toepassing op alle gelowiges in 2012. Kan jy dit glo? Ons het 'n 24/7 metgesel in die Persoon van die Heilige Gees!
Ons vier ook elke jaar Pinkster - die gebeurtenis 'n rukkie na Jesus se hemelvaart - toe die Heilige Gees op 'n klompie biddende en wagtende volgelinge uitgestort is. Daardie dag het 'n geweldige rukwind die plek gevul en hulle het gesien hoe vuurtonge verdeel en op elkeen se kop gaan sit. Hulle is vervul met die Heilige Gees en het in ander tale begin praat soos wat die Gees aan hulle gegee het(Hand 2:2-8) - tale wat hulleself nie geken het nie, maar wat deur die omstanders verstaan is! Dit was die beloofde gawe van God wat hulle met krag aangedoen het.
Ons het die afgelope paar dae reeds gekyk na enkele dinge wat die Heilige Gees in ons lewens doen. Die geweldige omvang, krag en seën van die Heilige Gees in elke gelowige se lewe is nie beperk tot 'n tydperk in die kerkgeskiedenis nie, maar"kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is...." (Hand 2:39)
Jesus is die voorbeeld van hoe die Heilige Gees 24/7 betrokke is in ons lewens deur in, by en op ons te wees. Jesus is deur die Gees verwek en die Gees in Hom het die vrug van goeie karakter voortgebring. In Luk 3:22;4:18 kom die Gees op Hom om 'n bediening van krag voort te bring.
Ons gees is ook deur die Heilige Gees verwek of lewend gemaak by wedergeboorte. Hy maak dit daarna ook vir ons moontlik om goeie en blywende vrug te dra omdat Hy dan in ons woon. Dit is Hy wat ons in staat stel om dié vrug te kan dra, maar dan moet ons in Hom bly (Joh 15:5,6). Verder is ons ook afhanklik van die Heilige Gees se bekragtiging om op effektiewe manier(e) aan mense oor te vertel dat Jesus se dood en opstanding die mens red.
Mag die volheid van die Heilige Gees vir jou 'n werklikheid wees in jou lewe. Hy is immers die derde Persoon in die Godheid.....wat gekom het om in en by jou huis te kom maak.
Gebed: Vader, dankie vir die Heilige Gees in gelowiges se lewens - onsigbaar vir die oog, maar sigbaar vir diegene met geopende geestesoë. Amen