Vers n dag - 19 Maart
Tussen die duiwel en die diep blou see
Hennie Symington
Sonde met die duiwel
Waar skuil die duiwel in vandag se samelewing? Of kan ‘n mens van die duiwel sê, soos Nietszche ‘n honderd jaar gelede van God gesê het: die duiwel is dood. Hierop moet die antwoord sekerlik wees: Nee, die duiwel met al sy boosheid, is springlewendig en woon op planeet Aarde.
Sommige teoloë meen egter die boosheid lê in jouself. Die mens is maar net van nature lief vir die kwaad. Ander glo weer dis die duiwel wat telkens van buite af insluip om jou te kom onderrig in die kwaad.‘n Volwasse gelowige weet egter dat boosheid in jou spoor volg soos ‘n getroue hond. Jy kry hom nie afgeskud nie. Jy kan hom nie uitdryf nie. Jy kan hom nie van jou af weer nie. Sy invloed sypel deur na elke gedagte en elke handeling – selfs die edelste en die mooiste wat jy het.
Na die duiwel met die bose!
Jou enigste afweermiddel is Jesus Christus. Hy’t gesien hoe weerloos ons staan teenoor die bose wat ‘n derduiwel en die vader van die leuen is. Toe het Hy ter wille van ons die bose die stryd aangesê en oorwin. As jy dus swaar dra aan die bose, dra Jesus jou deur.
Gebed vir vandag
Here Jesus, my lewe is een groot stryd teen die bose. Bewaar my siel deur u inwonende teenwoordigheid in my.
Vers ʼn dag
Hy (die duiwel) was van die begin af 'n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen. Joh. 8:44 - 45
“ … Ek bid nie dat U hulle uit die wereld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar.â€Â Joh. 17:15
God skryf jou geskiedenis oor in sy hemelse handskrif