Vers n dag - 8 Junie 2012
Jou 24/7 Metgesel
Carina Francke
Skrifgedeelte: Efe 4:3
"Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe." (Efe 4:3)
Jesus bespreek twee belangrike sake in dieselfde gesprek met sy dissipels naamlik die koms van die Heilige Gees en die geskenk van vrede wat Hy vir sy dissipels nalaat (Joh 14:26,27). Die wêreld kan egter nie een van hierdie beloftes hul eie maak nie, want die wêreldse vrede is nie van dieselfde aard as dié wat Jesus gee nie. Die wêreld kan ook nie die Gees ontvang nie omdat hulle Hom nie kan sien en Hom ook nie ken nie.(Joh 14:17)
As die wêreld dus in vyandskap met mekaar leef, kan 'n mens dit verstaan - daar is immers niks gemeenskapliks wat hulle kan saamsnoer nie. Aan die ander kant beskik die gelowige oor veel meer as 'n samebindende faktor - die Heilige Gees, die derde Persoon in die Godheid smee eenheid onder ons! (Efe 4:3). Dit word moontlik gemaak omdat die gelowiges almal deel is van een liggaam - dié van Jesus Christus. Ons word deur een en dieselfde Gees bewoon, is geroep deur dieselfde geloof en hoop in die één God en Vader.
Maar dat hierdie eenheid onder ons verbreek kan word deur onvrede, is ook 'n realiteit. Wat veroorsaak die onvrede? Vers 2 gee die antwoord: Ons onwilligheid om ons leefwyse in lyn te kry met die roeping wat ons van God ontvang het. Ons sukkel om (of wil ons nie?) mekaar met nederigheid, sagmoedigheid en geduld in liefde te verdra (v2). Ons vergeet dat niemand volmaak is nie en tog verwag ons van mekaar om dit te wees.
Die oplossing? Besef dat jy ook 'n onvolmaakte mens is met wie ander mense ook soms 'n probleem het. Betoon dieselfde genade as wat jy van hulle verwag: wees geduldig met jou medegelowige se foute en swakhede en moenie gedurig daarop konsentreer nie. Begin hom of haar sien as 'n reisgenoot op jou pad wat ook soos jy worstel met die "Ek", maar wat nogtans bewoon word deur dieselfde 24/7 Metgesel wat in jóú woon. Verdra hom of haar met die liefde wat God deur sy Gees in jou hart uitgestort het.
Onthou, die Gees gebruik gelowiges om die eenheid wat Hy gesmee het, te bewaar.
Gebed: Hemelse Vader, hierdie genade aan ander is nie in my eie krag moontlik nie. Dankie dat die Gees my ook hiervoor toerus. Amen