Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 11 Junie 2012

In Hom, uit Jou.....vrug

Carina Francke

Ps 84:6-8

'n Orgideëblom moet aan  die hoofplant verbind wees omdat die lewensap en (bietjie) water waarop dit oorleef, dit aan die blom hou. Die blom is wat mense vreugde verskaf.

So is dit met die gelowige ook - ons moet in Christus bly om vrug te dra: "Ek is die wingerdstok en julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie." (Joh 15:5)

Van watter tipe vrug word hier gepraat? Dié soort wat vloei vanuit  'n verhouding met die Here. Hoor wat sê Ps 84:6-8:"Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is en in wie se hart die gebaande weë is.  As hulle deur die Droë Laagte trek, maak hulle  dit 'n fonteinland; ook oordek die vroeë reën dit met seëninge. Hulle gaan van krag tot krag..."

Almal van ons beleef een of ander tyd 'droë laagtes' in ons lewens - daardie tye waar dit voel asof geen mens vir jou omgee nie, dat niks wat jy aanpak uitwerk nie, dat daar geen uitkoms is nie en dat selfs God jou verlaat het. Elia het dié wanhoop so erg gevoel, dat Hy gewens het om te sterf en selfs daarvoor gebid het! (1Kon19:4). Gelukkig weet God altyd beter en sien verder as die nóú en stuur 'n engel en kos om Elia te versterk. Die resultaat? Hy kry krag, loop God tegemoet waar Hy op Hom wag en kry 'n opdrag  om nuwe leiers te salf. (v15-17).

In jou "droë laagte" moet jy die verstandsbesluit neem om jou te versterk in die Here. Put krag uit wat jy weet oor die Here: Hy is in jou, by jou en wil jou leer en versterk.  Hy wil sy krag deur jou laat vloei sodat jy kan opstaan en die fonteinland en vroeë reëns wat vir jou wag, kan geniet. En dan volg die vrug:  wanneer jy by mense in hulle droë laagte aandoen, word jy instrumenteel om hulle land ook vol water te maak, die seën van die Here met hulle te deel en self van krag tot krag te gaan.

Die voorwaarde? Bly 'n loot wat ingeënt is op die wynstok, want sonder Hom kan ons niks doen nie.

Gebed: Vader, dankie dat ek nooit op my eie kragte hoef staat te maak nie. Ek wil in U bly.

 Amen.

Previous article: Vers n dag - 12 Junie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 8 Junie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.