Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 12 Junie 2012

Jou 24/7 Metgesel

Carina Francke

Skrifgedeelte: Joh 16:13

Ons het gister gekyk na die werk van die Heilige Gees ten opsigte van die wêreld.  Vandag fokus ons op Sy aktiewe betrokkenheid om 24/7 leiding te gee aan gelowiges. "Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek  en die toekomstige dinge aan julle verkondig."

Die gelowige sal in die volle waarheid deur die Heilige Gees begelei word. Omdat Hy net praat wat Hy by die Vader hoor, sal Hy ons lei volgens die wil en aard van God. Die waarheid hier ter sprake is die waarheid oor Christus en hoe dit ons totale menswees kan beïnvloed. As dié Waarheid die spilpunt is waarom alles in ons lewens draai,  begin 'n lewenslange proses waar ons in elke situasie kan begin onderskei tussen reg en verkeerd, reg en onreg, goed of kwaad, waar of vals.  Die waarheid word dus as't ware vir ons 'n vesting teen die leuen.

Ongelukkig beleef ons vandag so dikwels dat mense vreemde dinge leer en snaakse besluite neem onder die vaandel van "die Heilige Gees het my gelei" dat dit baie maklik is om verward te raak oor al die sogenaamde "waarhede." Ons moet egter verstaan dat die Heilige Gees niks wat teenstrydig is met die Woord van God aan enigiemand sal leer nie. Daaroor is ons teksvers baie duidelik:"Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek."

Die Gees sal ook die toekomstige dinge aan ons verkondig. Aan die dissipels (en ons) was dit dinge soos die aard van hulle sending, die teenstand, vervolging en die uiteindelike resultate van hulle pogings.  Hy het egter ook aan die skrywers van die Bybel openbaar dat redding nie deur die onderhouding van die Wet kom nie, riglyne hoe om die nuwe lewe in Christus te leef, en openbaar die vrug en gawes van die Gees waarvan Jesus gepraat het.  Vandag skyn Hy steeds  lig op die keuses wat ons lewens beïnvloed, op die Woord sodat ons dit kan verstaan en hoe Hy wil hê ons sy hande en voete op aarde moet wees -word - alles sodat die Vader en Jesus verheerlik word.

Gebed: Vader, mag my ore oop wees om die waarheid te hoor waarin die Gees my wil lei en om Sy openbaringe my eie te maak. Amen

Previous article: Vers n dag - 13 Junie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 11 Junie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.