Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 13 Junie 2012

In Hom, uit Jou......vrug

Teksvers: Joh 15:11

Goeie dinge en gebeure maak ons bly en verskaf groot vreugde. Sommige van die dinge is van so 'n omvang dat 'n mens skaamteloos op en af spring en luidkeels uitdrukking daaraan gee. Maar blydskap oor "goed" neem af namate ons gewoond daaraan raak.

Die vreugde wat van die Heilige Gees binne-in ons kom, is egter nie gekoppel aan eksterne faktore nie, maar vloei voort vanuit ons "vaswees" aan die wynstok, Jesus Christus. "As julle my gebooie bewaar sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.  Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word." (Joh 15:11)

Ons "vaswees" aan die wingerdstok het sy oorsprong in Sy liefde vir ons en ons gevolglike aangryp daarvan. Net soos die Vader die Seun liefhet, het Jesus die gelowiges lief.  Dit vertel van 'n sterk verhouding tussen die Vader,  Seun en sy dissipels. En ons verantwoordelikheid? Bly in hierdie liefde en in sy Woord.  Anders gestel, ons liefde en gehoorsaamheid aan (die "bly") in Sy woord,  moet die ruimte word waarbinne ons as gelowige ons hele lewe leef.  En dít is die bron van ware, blywende vreugde wat in jou sal bly.

Wat beteken hierdie hegte verhouding vir ons? Ons kan in Sy naam vra net wat ons wil en ons sal dit kry (Joh15:7).  Dit spreek natuurlik vanself dat vanweë ons liefde vir Hom en ons gehoorsaamheid aan Sy woord, ons niks sal vra buite Sy wil of wat teenstrydig is met sy Woord nie. En die vrug?  Blydskap! "Julle blydskap sal volkome wees." (Joh 16:24).

Jou vreugde is dalk gedemp as gevolg van onmoontlike situasies en onoorkomelike probleme in jou lewe.  As jy dit egter kan regkry om uit daardie put van moedeloosheid en klein geloof in gebed na God te gaan en jou saak voor Hom te stel, beloof Hy dat Hy sal gee wat jy vra. Hy wil immers hê ons moet lewe en oorvloed hê(Joh 10:10) en dit gaan veral oor die oorvloed vreugde wat jy beleef omdat jy in 'n hegte verhouding met Hom is.

Gebed: Dankie Vader dat ek vreugde as vrug in my lewe kan dra.  Help my om wanneer die vreugdevrug maar skaars is, steeds my vreugdesap by U te kry. Amen.

Previous article: Vers n dag - 14 Junie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 12 Junie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.