Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 14 Junie 2012

In Hom, Uit Jou......Vrug

Carina Francke

Teksvers: Lukas 8:15

Om eenmalig of net elke nou en dan vrug te dra, is nie 'n opsie as 'n gelowige in Christus en sy Woord bly nie . Nee, die verwagting is: "....groei en lewer honderdvoudig vrug" (Luk 8:8) en "....die wat, nadat hulle (die woord) gehoor het, hou die woord in 'n edele en goeie hart en dra met volharding vrug." (Luk 8:15)

Jesus gee in die gelykenis oor die saad wat in die grond val, (Luk 8:4-15) die redes waarom gelowiges  nie volhardend vrug dra  nie. Sommige mense kán nie vrug dra nie, want hulle hoor die woord, maar die duiwel kom en vat dit sodat hulle nie glo en gered word nie. Nog 'n groep glo wel, maar wanneer hulle op die proef gestel word, swig hulle voor versoekings sonder om vrug te dra - hulle gee sommer moed op.  Dan is daar die mense by wie die uitstootsels van die vrug sigbaar is,  maar sorge, rykdom en die genietinge van die lewe verstik dit.

Hoe lyk iemand wat volhardend baie ryp vrug dra? Dis is iemand wat die woord met 'n ontvanklike hart  hoor, aanneem en bewaar. Hy doen dus wat Jesus van gelowiges verwag, naamlik om sy gebooie te bewaar ten einde in sy liefde te bly en so as loot deel van die wynstok te bly. Vrug-dra is nie  opsioneel nie, hieroor is Jesus baie duidelik: "Ek het julle uitverkies en aangestel om vrug te dra en vrug te bly." (Joh 15:16). Maar onthou, om vrug te dra is nie om jóú goed  te laat lyk nie, maar om God  te verheerlik.

Die sleutel vir ryp en voortdurende vrug is volharding. Wanneer mense of die lewe ons 

'n vuishou toedien, sukkel ons dikwels om aan die beloftes van die Woord vas te hou.  Ons bevraagteken God en sy vermoë om te kan help en as Hy 'n bietjie talm, gooi ons sommer handdoek in. Ook wanneer dit goed gaan,  moet ons op ons hoede wees dat ons vrug verlep. Ons kan so maklik in sulke tye dink dat dit ons vermoë is wat ons dinge laat vermag.  Volharding verg geduld en geloof dat,  ten spyte van omstandighede, God IS en Hy KAN. Volharding sê ook dat selfs in my voorspoedige dae, ek vrug sal dra wat by die bekering pas.

Gebed: Here, help my om in slegte sowel as goeie tye vrugte te dra wat Godverheerlikend is. Amen.

Previous article: Vers n dag - 15 Junie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 13 Junie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.