Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 15 Junie 2012

In Hom, uit Jou......vrug

Carina Francke

Teksvers: 1Tim 4:12,16

Om vrug te dra impliseer dat jy as gelowige Hom in wie jy glo en wie in jou bly, deur jou leefwyse sal vereer. Anders gestel: Sy teenwoordigheid in jou behoort jou dryfveer te wees om 'n voorbeeld in jou handel en wandel te wees.

1 Timoteus 4:12 noem enkele dinge wat deur jou lewe weerspieël behoort te word: "...wees jy vir die gelowiges 'n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid. (v12)

Die gelowige se woorde moet in die eerste plek vir Hom aanneemlik wees (Ps 19:15) en wanneer ons met mense praat, behoort ons gesprekke opbouend en van goeie smaak te getuig sodat dit die hoorders stig en genade aan hulle kommunikeer.  Vuil taal pas dus nie in hierdie prentjie nie.(Efe 4:29)

Die Heilige Gees in ons kweek vrugte wat in ons gedrag, of ons manier van leef, sigbaar word. Gal 5:16-22 skep 'n baie duidelike beeld oor watter gedrag nie by 'n gelowige tuishoort nie, omdat dit nie tot eer van die Een in ons strek nie.  As ek en jy dus van hierdie

gelyste dinge in ons lewe herken, moet ons verstaan dat ons nie leef vanuit die Gees (ons 24/7 metgesel)wat in ons woon nie, maar dat ons  gedrag bepaal word deur ons sondige begeertes. Slegs wanneer ons leefwyse deur die Heilige Gees bepaal word, kan hande gevat word met reinheid - daardie kwaliteit wat beskryf word as nie besoedel nie, nie besmet nie.

Die liefde en geloof waarin ons 'n voorbeeld moet wees, is daardie allesoorheersende liefde vir Hóm en geloof in Hóm wat 'n pad oopstoot om sigbaar te word in ons leefwyse.

Die skrywer rig ook 'n waarskuwing aan Timoteus (en ons): "Let goed op jou lewe en jou leer en volhard daarin..."  Ons moet onsself - ons lewe en dit wat ons aan ander leer -dus gereeld onder die vergrootglas plaas. Waarom? "...want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister." (v16)

'n Leefstyl wat God verheerlik ís moontlik, maar net as ons dit leef in afhanklikheid van die Een binne-in ons.

Gebed: My Vader, ek wil dat my hele lewe 'n voorbeeld vir ander wees, maar ek besef ook dit is net moontlik as ek vanuit U krag leef.  Help my om te gehoorsaam? Amen.

Previous article: Vers n dag - 18 Junie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 14 Junie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.