Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 19 Junie 2012

Hy In Jou....Vrug uit swaarkry

Carina Francke

Teksgedeelte: Psalm 119:67,71

Swaarkry is 'n onvermydelike onaangenaamheid in die gelowige se lewe, maar dit het altyd vrug in ons lewens tot gevolg.  Swaarkry of beproewing is egter nie net toe te skryf aan die werk van ongelowiges en die lewe self nie, maar ons het ook (meer) dikwels 'n aandeel daarin.

"Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord. Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer." Ps 119:67, 71

Soos ongehoorsame kinders kies ons dikwels om ons eie pad te loop en dra dan die gevolge van ons eiesinnigheid en hardkoppigheid. En die nadraai hiervan is dat ander mense ook ly daardeur.  'n Goeie voorbeeld is Jona wat nie God se voorskrif om in Nineve sy genade te gaan preek, wil nakom nie, maar sy eie kop volg.....want hy (dink) hy weet beter. So veroorsaak hy die verlies van 'n skeepsvrag, byna 'n skeepsbemanning se waterdood, word deur 'n vis ingesluk en bring drie dae en nagte in 'n watermassa met seegras om sy kop in 'n dier se maag deur.  Daar kom hy tot die oortuiging dat God reg is, en hy verkeerd en dat "hulp net van die Here af kom" (Jona 2:9).

Ons rasionaliseer dikwels om óm die "Nee!" van God in ons lewens te kom.  Ons regverdig ons keuses en besluite met woorde soos: "Ek weet wat ek doen! Ek werk hard, ek gun myself die plesiertjie! Ek is my eie baas!" En soms is ons voorbarig genoeg om die Woord te manipuleer om  óns verkeerde, dikwels sondige besluite, te regverdig.

Die gevolg? Ons kry swaar (en die wat saamgetrek word hierin, ook!). En dan vra ons dikwels: "Waar is God?"  Nog altyd waar Hy by jou as gelowige is: IN jou! Maar omdat jy 'n eie wil het, moes Hy eenkant staan en jou toelaat om op die harde manier te leer dat Sy voorskrifte en manier van ding doen, ALTYD die beste is.

Alles is egter nie verlore nie, want Hy keer die hopeloosste situasie om in 'n oorwinning.  Die vraag is net, het jy op 'n plek gekom waar jy soos die Psalmdigter erken:  "Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal , maar nou hou ek my aan u woord."

Die vrug van hierdie gesindheid? Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U selfs my eiesinnigheid en mislukkings kan verander in 'n leerkurwe. Help my om my skuld te herken en te erken. Amen

Previous article: Vers n dag - 20 Junie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 18 Junie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.