Vers n dag - 20 Junie 2012
Hy In Jou....Loon uit swaarkry
Carina Francke
Teksgedeelte: 1 Petrus 1:6,7
Hierdie Skrifgedeelte handel nie oor swaarkry in die algemeen nie, maar oor swaarkry omdat jy vir die Here lief is en daarom gespot en vervolg word.
Om bly te wees oor swaarkry-dinge, veral as dit oor jou geloof gaan, is haas onmoontlik, maar ons kán dit regkry as ons fokus op wat belangrik is. Vir Petrus gaan dit in hierdie Skrifgedeelte oor ons fokus op die beloftes wat op ons wag: God het aan ons nuwe lewe geskenk en ons kan sonder twyfel uitsien na die onverganklike erfenis wat vir ons bewaar word in die hemel." Dan is daar ook die belofte dat omdat ons glo:"ons ook deur die krag van God veilig bewaar word"(v 4,5). Wat 'n versterking en vertroosting! Omdat Hy ons in beskerming geneem het, is dit tog moontlik om getrou aan Hom te bly, selfs al kom daar beproewing, verontregting of selfs die dood.
Dis op hierdie waarheid wat die skrywer fokus as hy aan sy lesers skryf: "....selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie beproef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets word. ( 1Petr 1:6)
Waarom moet die egtheid van ons geloof getoets word? Jy en ek is kosbaar vir God - Hy het immers sy Seun gegee om dit te bewys. Beproewing en swaarkry is egter nodig - dit vorm deel van ons suiweringsproses, want as ons geloof nie suiwer is nie, hoe kan ons leefwyse dan suiwer wees? Dit is dus nodig dat ons geloof getoets word om die suiwerheid daarvan te bepaal. Soos hitte die onsuiwerhede in goud blootlê en wegbrand, so lê swaarkry jou geloofsmotiewe bloot: is jou geloof gekoppel aan die feit dat Hy goeie dinge vir jou gee, omdat jy voorspoed beleef, omdat jy bang is jy loop die ewige lewe mis, of omdat Hy God, jou Skepper is vir wie jy liefhet met jou hele hart?
En die uiteinde as jou geloof die toets weerstaan? Jou geloof sal, wanneer Jesus terugkeer aarde toe, lof, heerlikheid en eer waardig wees. (v7)
Al lyk dit vir jou onmoontlik, dit ís moontlik om in swaarkry, steeds vreugde te ervaar omdat Hy jou bewaar vir die erfporsie van ewige lewe wat op jou wag. Dis net jou geloof wat in lyn daarmee moet kom.
Gebed: Dankie dat U my bewaar en dat swaarkry net momentele toetsings is. Amen.